
Die wêreldkampioen-handskaapskeerder het onlangs Bultfontein in die Vrystaat besoek om ‘n plaaslike boer se skape te skeer.
Luidens ‘n verklaring het mnr. Zingisile Elliot Ntsombo, wat dié titel al 10 keer gewen het, mnr. Sias van Rensburg op sy plaas, Hartenbosch, besoek om sy skape te skeer. Die geleentheid is moontlik gemaak deur CMW.
Ntsombo is tans in diens van CMW. Hy doen indiensopleiding vir CMW se skaapskeerspanne. Hy het in 1959 begin om skape te skeer, en in 1970, na ‘n paar jaar as ‘n mynwerker, het hy voltyds op dié beroep begin fokus. Hy het in 1992 saam met die eerste Suid-Afrikaanse skeerspan na Royal Bath in Brittanje gegaan wat aan die Wêreldkampioenskappe deel te neem. Tydens dié reis het hy as ‘n tolk opgetree en hy het Ian Rutherland, sy mentor, gehelp om die span te bestuur.
Hy is nege tale magtig. Dit sluit in Engels, Afrikaans, Xhoza, Zulu, Sotho, Noord-Sotho, Tshwana, Pedi en Swazi. Hy skeer baie Angora-bokke in die Oos-Kaap, derhalwe is hy ‘n kundige in die skeer van Europese skaap- en boksoorte.
22 Februarie 2011