
“Die volgende twee maande sal bepalend wees ten opsigte van die ontwikkeling van die stelsel,” sê hy.
’n El Niño-stelsel is kenmerkend van reën vroeg in die seisoen, met die moontlikheid van ’n midsomerdroogte. Op medium- en lang termyn kan ’n El Niño weerstoestande volgende jaar en in 2020 in die winterreëngebiede gunstig beïnvloed.
Van den Berg sê produksietoestande in die begin van die komende somer lyk gunstig in die somerreëngebiede, veral ná laat reën die afgelope somer voorgekom het.
Voorspellings toon steeds ’n goeie kans op reën in die winterreënstreke in die komende weke en maande, hoewel die intensiteit van die stelsels nie tans duidelik is nie, sê hy.
Probleme met graad van mielies
Intussen sê Graan SA in sy jongste verslag oor produksietoestande dat sojabone klaar gestroop is in die somerreënstreke. In die oostelike dele van Suid-Afrika is mielies grotendeels klaar gestroop.
Die laat reën wat in die somerreënstreke voorgekom het, het die mieliestroesproses in die westelike dele vertraag. In Noordwes bestaan “heelwat graadprobleme” by mielies wat moontlik deur die laat reën veroorsaak is. Sowat 30% van die mielies in dié provinsie is klaar gestroop, met goeie opbrengste wat in die oostelike dele verwag word, terwyl gemiddelde opbrengste in die westelike dele verwag word.
Gemiddelde mielie-opbrengste word in die sentrale en noordwestelike dele van die Vrystaat verwag. Sonneblomme is byna klaar gestroop. Sommige boere is egter steeds bekommerd oor die voorkoms van Alternaria en Sclerotinia by sonneblomaanplantings en die impak wat dit op opbrengste kan hê. Die organisasie sê volgens boere het laat sonneblomaanplantings beter gevaar as vroeë aanplantings, hoewel “baie dowwe pitte by die later aanplantings voorgekom het weens die korter dagliglengte en die impak van die klimaatstoestande” later in die seisoen.
In die Oos-Vrystaat word die stroop van mielies deur nat toestande vertraag en wag talle boere nog dat die mielies droog word. Die koringplantproses is al in volle swang vir die boere wat besluit het om koring te plant.
In Limpopo is sowat 75% van die sonneblomaanplantings klaar gestroop. Na verwagting het ’n derde van die oorblywende 25% rypskade opgedoen. Droëlandkoring word al hier gestroop met goeie opbrengste in die vooruitsig.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.