
Reën kan dan ook in die provinsies in die ooste van die land voorkom, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.
Baie min mielies is nog in die omgewing om Lichtenburg geplant, terwyl nog net sowat 20% van die mielie-aanplantings in die distrikte Bothaville, Wesselsbron en Viljoenskroon voltooi is. Van den Berg sê die distrikte Hertzogville en Boshof is ook nog droog, wat aanplantings in dié distrikte verhinder. “Maklik 50% van Suid-Afrika se mielies word in dié distrikte in die Vrystaat en in Noordwes geplant.”
Opkomsdatums
Volgens Van den Berg is die laaste optimale opkomsdatum vir mielies in die westelike dele van die land sowat 10 Januarie. “Dan gaan dinge reeds druk gaan, want met ’n groeisiklus van 110 dae staan jy dan op 20 April, met die kanse op ryp wat sedert begin April op sowat 30% staan.”
Die laaste optimale opkomstyd vir sonneblomme is die laaste twee weke van Januarie.
“Die krisis in die veebedryf raak ook groter,” aldus Van den Berg. “Boere in die distrik Postmansburg het geen weiding oor nie, terwyl talle ander distrikte, soos Trompsburg, Hertzogville en Kuruman, onder veldbrande deurgeloop het. Die beskikbare weiding op talle plase is dus verwoes.”
Die silwer rand om dié droogte-wolk is dat besproeiingsboere se watervoorraad goed lyk. Die meeste van hulle kon ten volle plant, volgens Van den Berg.
El Niño
Wat die verwagte El Niño-stelsel betref, is die ontwikkeling daarvan steeds soos ’n motor se koppelaar wat nie wil vat nie. “Vir see-oppervlaktemperature, soos wanneer El Niño plaasvind, moet die oppervlaktoestande met die oorhoofse weerstelsels koppel. Dit is omtrent soos ratte wat inmekaar moet pas voordat ’n voertuig kan reageer. Tans is dit egter meer soos ’n outomatiese voertuig se ratte wat gly. Daar is daar nog geen koppeling nie, wat beteken dat die weerstoestande wat nou voorkom, nog nie ten volle aan El Niño toegeskryf kan word nie.”
Die buro vir meteorologie in Australië sê in ’n onlangse verklaring dat die Enso- (El Niño- Suidelike Ossillasie) indeks steeds dui op die moontlike ontwikkeling van ’n El Niño-stelsel. Die indeks dui die afgelope paar maande reeds ’n 70% kans op die ontwikkeling van die stelsel in die tweede deel van die somer aan.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.