
“Wie in Suid-Afrika moet die spreekwoordelike fluit kry om te speel? Die een wat die fluit kan speel, die een wat die armste is of die een wat dit verloor het? Die een wat dié vraag kan antwoord sal die land se grondkwessies kan oplos,” sê prof. Mohammed Karaan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
Hy het by Graan SA se jaarkongres op Bothaville gesê die voorgestelde wetsontwerpe en wette rakende grondhervorming boesem nie vertroue in nie. “Dit hou nie tred met die werklikhede nie en dit het ook nie die opinie van die samelewing in die voorstelle opgeneem nie.”
Karaan verwelkom die feit dat die staat tans onderneem om wyer oor wetsontwerpe, soos die verblyfregswetsontwerp, te konsulteer.
Arbeidswetgewing?
Wat voorgestelde veranderinge aan arbeidswetgewing betref, sê Karaan hy meen die kwessies rondom minimum lone gaan die landbou nie so hard tref nie, aangesien die meeste boere reeds hul mense die minimum loon, of meer, betaal.
Karaan meen die landbou moet die arbeidskwessies in die sektor aanvaar, en hy voorspel dat die situasie rondom arbeiders wat op plase bly, gaan verander: “In die landbou gaan die tyd kom dat minder werkers op die plaas gaan bly en werk. Meer werkers gaan elders bly en op plase werk, en dit kan ook beter wees vir maatskaplike kwessies.”
Werkskepping
Volgens Karaan verwag mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, dat die landbouverwerkingsektor 145 000 werksgeleenthede moet skep, en die landbousektor sowat 100 000.
Oor die afgelope 10 jaar het die landbou 500 000 werksgeleenthede verloor, en Karaan sê die bloeding in die sektor moet stopgesit word, want die sektor het die potensiaal om oor ‘n paar jaar een miljoen werksgeleenthede te skep.
‘Moenie sit en wag’
Karaan moedig boere aan om nie terug te sit en kyk wie wat aan die verval in die land doen nie, maar om self aan die stryd deel te neem. “Moenie sê laat hulle dit maar uitpluis, ek sal op my plaas sit en kyk hoe ander dit doen nie. Ons moenie dink die onluste wat tans in die noorde voorkom (in Egipte en Libië) gaan nié by ons uitkom nie. Moenie dat dit ons ook onkant betrap nie.”
Lees meer oor Karaan se boodskap in Landbouweekblad.
9 Maart 2011