
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz sê drie faktore wat ’n optimistiese prentjie vir die 2022-’23-seisoen skets, is die weervooruitsigte vir die volgende vyf maande, pryse vir graan en oliesade, asook trekkerverkope. Hy waarsku egter dat uiterste weersomstandighede, soos die hitte en droogte in die Noordelike Halfrond, enige tyd plaaslik ook ’n werklikheid kan word.
Hy sê volgens die Australiese buro vir meteorologie is daar tekens in die atmosfeer en Stille Oseaan wat gunstig vir ’n La Niña-toestand is. Daarvolgens is daar ’n kans van sowat 50% dat ’n La Niña later in 2022 kan vorm, wat dubbel die normale waarskynlikheid is. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het ’n soortgelyke verwagting vir sy vooruitskouing van Julie tot November.
“Dit is egter nog vroeg en meer data, veral wat die weer betref, is nodig om werklik ’n prentjie te vorm. Suid-Afrika het goeie reën – nie in oormaat nie – veral van Oktober 2022 tot Februarie 2023 nodig vir gewasverbouing, veeboerdery en tuinbougewasse. Vir nou is die beskikbare aanduidings bemoedigend.”
Sihlobo sê hoewel die verwagting is dat Suid-Afrikaanse mielie-, sojaboon- en sonneblompryse later in die jaar laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar sal wees, is dit steeds aanloklik genoeg om goeie aanplantings aan te moedig. Hy wys daarop dat pryse vir geel- en witmielies op 4 Augustus op ’n jaargrondslag onderskeidelik 26% en 32% hoër was, en teen R4 156/ton en R4 161/ton verhandel het. Op dieselfde dag was sonneblom en sojabone onderskeidelik 12% en 16% hoër op ’n jaargrondslag teen R10 200/ton en R8 454/ton.
“Die voorlopige raming deur die Amerikaanse departement van landbou vir Suid-Afrika se 2022-’23-mielie-oes is aanplantings van 2,6 miljoen ha, wat heelwat hoër is as die tienjaargemiddelde van 2,5 miljoen ha. ’n Opbrengs van 5,7 ton/ha word voorspel in die lig van die verwagte gunstige weersomstandighede. Dit beteken ’n oes van 14,8 miljoen ton, wat ietwat hoër as die huidige oes van 14,7 miljoen ton is.”
Volgens Sihlobo was trekkerverkope in die eerste helfte van die jaar 18% hoër as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar met 4 133 eenhede wat verkoop is. Stroperverkope was 213 eenhede, wat 37% hoër is. Dit word toegeskyf aan die goeie produksie in die sektor oor die afgelope twee jaar en hoër kommoditeitspryse. “Goeie vooruitsigte vir die komende seisoen kon boere ook aangemoedig het om in bates soos trekkers te belê. Die optimisme kan ook gesien word in die sakevertroue-indeks van Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie wat op 60 punte in die tweede kwartaal gestaan het, al het dit afgeneem teenoor die begin van die jaar.”
Baie meer sojaboneDr. Werner Rossouw, direkteur van Silostrat, is ook optimisties oor die komende seisoen en sê boere het ’n goeie grondprofiel. Ondanks hoë insetkoste lyk pryse darem belowend. “Daarom verwag ons goeie aanplantings met min oorlê-lande. Ons verwag ook ’n swaai na meer sojaboonaanplantings ten koste van mielies. Dit is eerstens omdat sommige boere bang is vir versuipskade by mielies, en tweedens omdat die insetkoste vir sojabone bietjie laer is.”
Sy verwagting is dat sowat 200 000 ha méér sojabone aangeplant sal word, wat dit die grootste aanplanting tot dusver sal maak. Hy verwag dat mielie-aanplantings 2,4 miljoen ha tot 2,45 miljoen ha sal beloop.
“In die geheel beskou is ons baie optimisties oor die komende seisoen, al is insetkoste hoër. As gevolg van ’n relatief lae oordragvoorraad by mielies en hoër internasionale kommoditeitspryse behoort boere steeds met ’n goeie opbrengs winsgewend te kan produseer.”