Die Kersboodskap van dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, aan Landbouweekblad-lesers:
Landbougewys was dit ’n jaar waarin die pendulum tussen hoop en moedeloosheid geswaai het. Vir elke gunstige landbougebeurtenis was daar ’n ongunstige politieke dreigement. Vir elke boer wat gepresteer het, was daar een wat op sy plaas vermoor is.
Ons almal smag na rus en vrede. Tog gaan ons Kersfees tegemoet met talle probleme en alles behalwe rus en vrede.
Sommige mense soek die probleme se oplossings in hul eie krag. “Ons sal dit nie vat nie,” sê hulle − en dan praat hulle oorlog en geweld.
Oplossings gesoek
Ander soek oplossings in hul eie ekonomiese krag. “Hulle kan maar die land opfoeter, met my geld en beleggings is ek verskans en kan hulle my nie seermaak nie.”
Ander plaas al hul vertroue in menslike leiers. Hulle wag op die groot Moses-leier wat skielik moet kom om oornag alles met ’n towerformule reg te maak.
Wanneer gaan ons die Bybelse les leer om nie op prinse te vertrou nie? Ps. 146 stel dit so mooi as daar staan dat jy nie op ’n mens moet vertrou nie. “Sy asem verlaat hom en sy planne is daarmeeheen. Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig.”
Daarom het ons in hierdie tyd juis die boodskap van Kersfees nodig.
Troos oor die toekoms
’n Boodskap van hoop en van vrede tussen mense en met God. Tweeduisend jaar gelede stuur God met een beweging, deur die geboorte van Christus, die wêreld in ’n totaal ander rigting. Wat ’n troos dat die toekoms nie deur ons alleen uitgekap hoef te word nie, maar dat dit in Sy hande is. Met een beweging kan Hy alles oornag nuut en anders maak – ook in Suid-Afrika.
Maar hierdie geleentheid is ook ’n tyd vir dankie sê. Dankie vir elke landbouer wat in moeilike toestande kos geproduseer het. Dankie vir elke landbou-onderneming waarsonder sukses nie moontlik was nie. Dankie vir die landboumedia wat geprys het waar dit nodig was, maar ook nie gehuiwer het om foute uit te wys nie.
Teen hierdie agtergrond wens ek u ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige nuwe jaar toe. As instrumente in God se hande gaan ons ons bes doen om die nuwe jaar ’n beter jaar vir almal te maak. Mag ons die krag en die wysheid daartoe ontvang.
23 Desember 2011