
Boere in die distrik Brandvlei het vanjaar vroeg reeds Kersgeskenke in die vorm van reën en bale veevoer gekry.
Sagte, deurdringende reën het op 15 Desember op die meeste plase rondom Brandvlei uitgesak. Behalwe vir ses plase in die Granaatboskolk-omgewing, wat geen reën gekry het nie, het boere tussen 17mm en 90mm reën gemeet, sê mnr. Bossie de Vries van die plaas Boskop buite Brandvlei.
De Vries sê die veld wat in Februarie vanjaar reën gekry het, herstel beter as die veld wat nou vir die eerste keer reën gekry het. Dáár lyk dit asof die graspolle nie op die reën reageer nie.
De Vries sê hulle is dankbaar vir die reën, maar die reën se waarde sal eers ná goeie opvolgreën na vore kom. “Ons moet baie gou opvolgreën kry, anders gaan die veldjies wat ons nou kry, wegbrand.” Opvolgreën sal ook die gevaar van die siekte dikkop, wat skape opdoen as hulle verwelkte duwweltjieplante vreet, verhoed.
Lede van die boerevereniging Brandvlei is ook baie dankbaar vir die groot voerskenking van 52 ronde bale Serradellahooi wat hulle van mnr. Bernhardt du Toit van die plaas Langvlei in die Koue Bokkeveld ontvang het. Danksy Du Toit se vrygewendheid en meelewing met medeboere kon die lede elk een baal voer kry, terwyl die boere wat nie verlede week reën gekry het nie, meer bale gekry het.
Boere wat vroeër vanjaar ook reën gekry het, het ook die bale wat aan hulle toegewys is, aan daardie boere afgestaan.
Op die meegaande foto: Mnr. Bernhardt du Toit se voergeskenk vir boere in die droogtegeteisterde distrik Brandvlei.
22 Desember 2010