
Eenstemmigheid ontbreek steeds by die Khoi en San oor presies hoe die herstel op grondregte op hulle van toepassing moet wees.
Wanneer die KhoiSan na grondeise van vóór 1913 verwys, is dit hoofsaaklik kollektiewe of gemeenskapseise. Dit is nie wenslik vir dié stamme om in hierdie stadium na spesifieke gebiede te verwys in die debat oor grondeise nie, sê mnr. Cecil Le Fleur, voorsitter van die Griekwa Nasionale Konferensie. Dié organisasie is die oudste en grootste KhoiSan-organisasie in die land.
Volgens Le Fleur is die kwessie nog baie sensitief. Van reeds voor 1913 is die Khoi en San ontneem van ál die grond wat hulle hoofsaaklik gemeenskaplik besit het. “Grond van die Khoi en San was aanvanklik besit en bestuur op ’n eiesoortige inheemse stelsel waar die hele Suid-Afrika aan hulle behoort het.
“Grondsake, soos ander kultuursake was deur ’n duidelike stelsel van gewoontereg bestuur en die Khoikhoi wat veeboere was, het van een gebied in Suider-Afrika na die ander getrek, soos wat die seisoene gewissel het.
“Só het hulle met hulle troppe vee wisselweiding toegepas en dit kom daarop neer dat die Khoi en die San nie vandag kan sê dat ’n spesifieke plaas aan hulle behoort nie.”
Die Westerse stelsel van die opmeting en die verdeling van plase maak dit dus moeilik om spesifieke eise in te dien, verduidelik Le Fleur.
Pres. Jacob Zuma het by meer as een geleentheid, voordat hy die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte bekragtig het wat grondeise vir vyf jaar heroopstel, aangedui dat die Khoi en San se grondeise van voor 1913 in hierdie wetgewing vervat sou word. Daar het niks van hierdie belofte gekom nie en dit is ‘n skande dat die president nie toegesien het dat dit nagekom word nie, sê Le Fleur. Beloftes dat daar nou beleid daaroor geskryf word, neem die Khoi en San met ‘n knippie sout.
Opperhoof Hennie van Wyk van die !Kora//xou//ais-stam, sê daar is geen politieke wil om die KhoiSan te erken nie. “Hierdie land behoort aan ons en daarom is ’n grondeis nie werkbaar nie.”
Dié stam glo daarom dat die Regering ‘n verdrag met al die leiers van die KhoiSan-stamme moet sluit. Van die verwagtinge is onder meer dat as ’n soewereine nasie moet elke stam gratis voordele en befondsing van die munisipaliteite kry waaronder hulle tradisionele grond val.
Die stamme moet ook befondsing kry van die mynbou-bedrywighede wat op hulle grond plaasvind. Tradisionele en heilige grond moet teruggegee word.
Van Wyk sê omdat die land aan die Khoi en San behoort, is alle grond wat aangekoop en verkoop word, handel in gesteelde eiendom. Die twee leiers stem saam dat leiers verteenwoordigend van die KhoiSan-groeperinge in die land bymekaar gebring moet word om saam met regslui, geskiedkundiges, landmeters, die Regering en ander belanghebbendes konstruktiewe gesprekke aan die gang te sit om uiteindelik ‘n sinvolle, haalbare oplossing vir grondeise van die Khoi en San te beding.
* Lees die Namibiese eerste minister, dr. Hage Geingob, se mening oor grond in die buurland: "Die (Namibiese) jeug se begeerte om grond by wit plaasboere te gryp, sal nie langer geduld word nie," sê hy.