‘n Boer van Lindley in die Vrystaat, sy vrou en sy 3 jarige dogter is vermoedelik Woensdagaand (1 Desember) op hulle plaas Tweefontein - tussen Lindley en Steynsrus - vermoor, sê die Polisie. Sers. Majang Mosupa sê die moord is Donderdagoggend (2 Desember) eers aangemeld.
Volgens Mosupa is die 40 jarige boer se liggaam op die werf gevind. Hy het verskeie steekwonde gehad. Sy vrou en dogtertjie is in hul slaapkamer gevind waar hulle doodgeskiet is. Dit is nie tans duidelik of enige iets uit die huis gesteel is nie.
Mosupa sê die Polisie gaan tans die misdaadtoneel na en nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Drie verdagtes
Intussen sê mnr. Kobus Breytenbach, hoof van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, volgens die inligting wat aan hom deurgegee is, was van die plaaswerkers en inwoners van die plaaslike informele nedersetting na bewering by die aanval betrokke.
Hy sê die man het glo laat gistermiddag drie verdagtes by sy hek opgemerk, maar geen besonderhede is nog beskikbaar oor wat presies gebeur het nie. Die Polisie is glo reeds op soek na die verdagtes.
Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie.
2 Desember 2010