‘n Strafregtelike klag is teen die Naledi-munisipaliteit op Vryburg gelê weens rioolbesoedeling van waterbronne.
Luidens ‘n verklaring het mnr. Carel Sterrenberg, ‘n boer van die omgewing, die klagte Woensdag (4 April 2012) aanhangig gemaak.
“Ek het talle klagtes by die munisipaliteit ingedien en vele beloftes is oor die afgelope paar jaar gemaak, maar tot op hede is nog niks gedoen nie,” sê Starrenberg. Die saak is ook vroeër deur AfriForum na die Departement van Waterwese in Noordwes verwys.
Plan van aksie?
Mnr. Herman Swanepoel, voorsitter van die AfriForum-tak in die dorp, sê onbehandelde riool word daagliks in die Hartsrivier gestort, en dit besoedel oppervlakwater en grondwaterbronne.
“Ons het genoeg gehad! ’n Plan van aksie is voorgelê, maar tot dusver is geen stappe wat daarin voorgestel word, al geneem nie,” sê Swanepoel.
Die organisasie sê inwoners van die dorp wil hê dat die Polisie die munisipaliteit en die Dr. Ruth S Mompati-distriksmunisipaliteit moet ondersoek, en dat diegene wat vir die besoedeling verantwoordelik is, vervolg moet word.
5 April 2012