Vier organisasies beplan ‘n klas-aksie in die Kaapstadse Hooggeregshof teen maatskappye wat skuldig bevind is aan prysknoeiery met brood, sê die Black Sash.
Luidens ‘n berig op News24.com sal die Black Sash, Cosatu in die Wes-Kaap, die Kinder-navorsingsentrum en die Nasionale Verbruikersforum Dinsdag (23 November) ‘n aansoek by die hof inhandig.
Die aansoek sal teen Pioneer Foods, Tiger Consumer Brands en Premier Foods wees. Die Mededingingskommissie het bevind dat al die maatskappye aan ‘n kartel rakende broodpryse deelgeneem het.
Tweede in sy soort
Luidens die berig sê Black Sash dit is die tweede klas-aksie wat in Suid-Afrika onderneem word, en die eerste in sy soort wat aanspraak maak op die werklike skade, én dit op groot skaal.
News24.com berig ook dat die Mededingingskommissie op Woensdag, 24 November, die Mededingingstribunaal sal vra om die ooreenkoms wat hy vroeër met Pioneer Foods aangegaan het, goed te keur.
Pioneer Foods moet volgens die ooreenkoms ‘n bykomende R500 miljoen boete vir nie-mededingende optrede in die voedselbedryf betaal. Die maatskappy is reeds in Februarie 2010 ‘n boete van R195,7 miljoen vir betrokkenheid by die broodkartel opgelê. Die jongste boete se werksaamhede het betrekking op mielie- en koringmaling, bakerye, die eier- en pluimveebedrywe.
Die maatskappy moet verder sy winsmarges met R160 miljoen verlaag oor ‘n gedefineerde tydperk.
Bronne: News24.com
23 November 2010