
Alle dagga moet as voedsel geklassifiseer word, behalwe wanneer dit as deel van medisyne aangebied word of individuele of gekombineerde komponente daarvan in ’n produk geformuleer is.
Die Cannibas Trade Association Africa (CTAA) het hierdie voorstel gemaak toe hy kommentaar gelewer het op die wetsontwerp vir die private gebruik van dagga van 2020 wat die departement van justisie en korrektiewe dienste na die parlement gebring het vir verwerking.
Hierdie wetsontwerp is genoodsaak nadat die Grondwethof die parlement in 2018 gelas het om die grondwetlike defek in die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels (Wet 101 van 1965) en die Wet op Dwelms en Dwelmhandel (Wet 140 van 1992) te wysig sodat volwassenes dagga in die privaatheid van hul huis mag kweek, besit en gebruik.
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is besig met die opstel van die regulatoriese stelsel en beoog om in Oktober gereed te wees om permitte vir spesifiek hennep uit te reik. Die permitte hiervoor wat die reguleringsowerheid vir Suid-Afrikaanse gesondheidsprodukte (Sahpra) reeds aan produsente uitgereik het, sal dan aan die departement oorgedra word sodat hulle nie benadeel word nie.
Daar is twee soorte permitte waarom aansoek gedoen sal kan word. Die een is vir primêre produksie en die ander vir vervaardiging. Omdat hennep ’n soort dagga is, het dit verskeie beperkinge op die produksie van hennep meegebring. Die grootskaalse kommersiële produksie van hennep word ook ingevolge die twee wette verbied. Daar word gehoop dat wanneer die wetsontwerp vir die private gebruik van dagga ’n wet word, dit van die beperkinge vir die daggabedryf sal verwyder.
’n Superkos
Die gebruik van dagga as kos dateer 10 000 jaar terug, maar volgens die ministerie van gesondheid en Sahpra het dit nie voedingswaarde nie, sê mnr. Ricky Stone van CTAA. Die organisasie wonder of dit met opset gedoen word. “Dit is ’n superkos en het baie voedingswaarde, baie meer as die meeste ander plante.”
Volgens die organisasie bevat dit 144 endo-kannabinoïde, maar oor slegs twee, CBD en THC, word hoofsaaklik gepraat. Die endo-kannabinoïdestelsel beheer die werking van alle stelsels in die menslike liggaam en beheer dus ’n mens se gesondheid. “Dagga is nie ’n medisyne nie, maar kos,” benadruk Stone. Dagga bevat proteïen, vesel, noodsaaklike olies, verskeie vitamiene en noodsaaklike vetsure.
Die organisasie stel voor dat dagga soos vrugte gegradeer moet word. Die voorgestelde graderings is: graad AA vir mediese dagga met Sahpra as die lisensie-owerheid, graad A vir dagga wat binnenshuis gekweek is, graad B vir dagga in kweekhuise en graad C vir dagga wat buite verbou word. Vir graad A, B en C moet ’n lisensie van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling bekom word.