
Mnr. Sageas McKenna het kop en skouers uitgestaan bo die 14 streekwenners in vanjaar se kompetisie vir die Plaaswerker van die Jaar.
Só het mnr. Danie Niemand, direkteur van plaaswerker-ontwikkeling by die Wes-Kaapse departement van landbou, gesê toe McKenna onlangs as Suid-Afrika se beste plaaswerker aangewys is.
“Nadat ek McKenna die eerste keer ontmoet het, het ek geweet hy gaan wen. Hy maak ’n goeie indruk, is selfversekerd en hy gryp geleenthede aan wat na sy kant toe kom. Hy het onder meer ook ’n tweede Dan in karate en het pas ’n graad in bedryfsielkunde verwerf,” vertel Niemand.
Beskeie wenner
Die beskeie McKenna kan nog nie glo dat hy die algehele wenner in die kompetisie is nie. Daar was vanjaar 940 deelnemers aan die kompetisie. Hy loop weg met R20 000 kontant, ’n oorsese studiereis ter waarde van R40 000 en ’n goue muntstuk van SA Gold Exchange wat R5 000 werd is.
Mnr. Saag Jonker, vir wie hy werk, het ook by die prysuitdeling aangekondig dat hy die lening wat die plaas aan McKenna toegeken het om ’n motor mee te koop, gaan afskryf.
McKenna het op die Jonkers se plaas naby Oudtshoorn grootgeword. “Me. Jonker het haar ontferm oor my en my broers en susters toe my ma in 1995 oorlede is. Hulle was nog altyd net goed vir ons,” vertel hy.
Hy weet nog nie wat hy met sy prysgeld gaan doen nie, maar dink hy sal dit seker gebruik om verder te studeer.
Raad
Hy sê dat die ding wat hom die gelukkigste maak, is wanneer daar samewerking op die plaas is. “Wanneer mense saam werk, verstaan jy mekaar en dit is ’n vriendelike werksomgewing waar dinge makliker gebeur.”
Sy raad aan plaaswerkers is om hard te werk en om op te staan vir hulself sodat hulle kan uitkom waar hulle wil wees. “Dit is moontlik om êrens te kom in die landbou.”
Sy raad aan boere is om mooi na hul werkers te kyk: “Dit is vir werkers nie net lekker om te sien hulle baas gee om vir hulle nie, dit kweek ook lojaliteit en bevorder produktiwiteit,” verduidelikheid hy.
22 November 2011