Is die bohaai wat oor die rooivleisbedryf en koolsuurgasvrystelling gemaak word, regverdig of word dubbele standaarde toegepas, vra dr. Heinz Meisner, veekundige verbonde aan die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
Dít is in reaksie op ’n insetsel wat onlangs op die omgewingsprogram 50/50 verskyn het.
Volgens die program dui die Verenigde Nasies se statistiek aan dat vleisproduksie meer kweekhuisgasse vrylaat as vervoer. Die program wys ook spesifiek dat vleis en vleisproduksie in die toekoms een van die omgewingskwessies gaan wees wat gereeld gedebatteer gaan word.
Meisner sê, as ’n mens nywerheidsbedrywighede en die invloed daarvan op die vrystelling van kweekhuisgasse in ag neem, is die grootste beswaar “dat aktiviste besig is om die bydrae van die vee-afdeling van landbou uit verband te ruk.”
Hy sê dit is interessant om te sien dat wanneer omgewingsfaktore, soos watergebruik, bespreek word, verskeie vingers na vee en vleisproduksie gewys word. “Maar wat van bedrywe, soos wyn of mielies, wat ook groot hoeveelhede water gebruik om hul gewasse te besproei of af te was?”
Proefbuisvleis
Intussen het wetenskaplikes bekend gemaak dat hulle van volgende jaar af vleis sal begin produseer wat in ’n laboratorium gekweek is. Luidens ’n berig op Health24.com hoop dr. Mark Post, ’n biologiese wetenskaplike van die Universiteit van Maastricht in Nederland, om vleis met dié metode gesonder te maak.
Post meen dat dit ’n moontlike oplossing vir die wêreld se probleem met ’n groeiende bevolking, maar beperkte landbougrond, kan wees. Hy sê dit sal wel lank duur voordat mense aan die idee van die vleis, soos hamburgers en wors, gewoond sal raak. Dit sal aanvanklik ook baie duur wees.
Die eerste laboratorium-geproduseerde hamburger sal sowat R2 674 miljoen kos om te produseer. Post sê: “Die eerste een sal ’n bewys van die konsep wees, net om te wys dit is moontlik. Ek glo ek gaan dit in die komende jaar kan doen.”
Mnr. Willie Clack, voorsitter van Gauteng se RPO, sê hy kan met sekere feite in Post se teorie saamleef, veral ten opsigte van die beperkings wat die landbou in die toekoms in die gesig gaan staar.
Hy meen dat die idee eerste iewers in ontwikkelde lande kan kop optel. “. . . maar in die ontwikkelende wêreld gaan dit maar moeilik gaan. Ons in Afrika eet nie net hamburgers en ‘sausages’ nie. Afrika se mense eet vleis!”
Clack sê verder dat die berig verwys na ’n sintetiese produk, wat vrae laat ontstaan oor of dit aan die verbruiker se behoeftes gaan voldoen.
Bronne: 50/50 en Health24.com
16 November 2011