Die landbou is baie gevoelig vir die klimaat, en kleiner boere sal die verloorders van aardverwarming wees, sê dr. Tanya Abrahamse, die hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (SANBI). Sy was een van die sprekers in ’n werksessie ter voorbereiding vir die 17de klimaatsveranderingskongres (COP 17) wat in Desember vanjaar in Durban plaasvind.
Abrahamse sê hoewel groter, meer gevestigde kommersiële boere die wenners teen aardverwarming gaan wees, gaan veral besproeiingsboere hul praktyke moet aanpas om minder omgewings- en waterintensief te wees.
Die bosboubedryf gaan ook onder aardverwarming deurloop, met meer brande en laer watergebruik wat gaan voorkom.
Natter ooste, droër weste
Abrahamse sê volgens navorsing wat haar span gedoen het, gaan die ooste van die land ’n natter klimaat beleef, met toenemende droër toestande wat in die weste verwag word.
“Die enigste ding wat hier voorspelbaar is, is die onvoorspelbaarheid van die sitausie. Daar gaan groot veranderings voorkom,” vertel Abrahamse. Sy sê die beskikbaarheid van water gaan afneem, al word die invloed van klimaatsverandering nié in ag geneem nie.
Hul navorsing wys byvoorbeeld (sonder om klimaatsverandering in ag te neem) waar daar tans surpluswater in die Tsitsikamma-opvangsgebied beskikbaar is, sal dié gebied teen 2025 nie meer surpluswater hê nie.
Temperature
As niks gedoen word om klimaatsverandering teen te werk nie, kan temperature in Suid-Afrika se binneland teen 2050 met 3 grade tot 4 grade Celsius styg, en teen 2100 kan die binneland met tot 7 grade Celsius warmer wees.
Teen die kusgebiede word vir dieselfde scenario ’n temperatuurverhoging van 2 grade Celsius teen 2050 verwag en tot 4 grade Celsius teen 2100.
Abrahams sê van 2000 tot 2009 het natuurrampe jaarliks, konserwatief geskat, sowat R1 miljard se skade aangerig.
Daar is ook bepaal dat die voorkoms van koolstofdioksied in Suid-Afrika se atmosfeer tans 30% hoër is as in die voorafgaande 750 000 jaar.
1 April 2011