Die wêreld se mikpunt om aardverwarming tot hoogstens 2°C te beperk, is ’n droom wat nie meer haalbaar is nie.
“Ons sal moet realisties word daaroor,” sê prof. Roland Schulze, emeritusprofessor in hidrologie aan die Universiteit van Kwa- Zulu-Natal in Pietermaritzburg.
Werklikheid
Schulze het op die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se klimaatskonferensie in Pretoria gesê vandat daar in 2000 met scenario’s oor klimaatsveranderinge begin is, het die werklikheid van elke jaar telkens die slegste moontlike scenario oortref.
“Dinge lyk nie goed nie. Van die laaste 15 jaar was 14 die warmste nóg op rekord. Dit is egter nie alles net rampspoed nie. Daar is ook voordele vir die landbou.”
Verhoogde koolsuurgas verbeter fotosintese van plante en verminder transpirasie, maar aan die ander kant beteken hoër temperature en veranderde reënvalpatrone verdamping uit damme, minder grondvog, meer besproeiing, veranderende plantdatums en nuwe siektes en plae.
Tot 5 °C warmer in 2090
Schulze waarsku as die wêreld op dieselfde trant voortgaan soos nou, word voorsien dat teen 2050 gemiddelde temperature 2°C hoër sal wees en teen 2090 tot 5°C hoër.
Van die praktiese implikasies is dat ’n bykomende 1 000 miljoen kubieke meter byvoorbeeld uit die Oranjerivierstelsel sal verdamp en die vrugtebedryf in die Wes-Kaap 43% minder koue-eenhede sal hê.
2 September 2011