
Daarom moet regerings daadwerklik begin om meer geld te bestee om aanpassings te maak en landbou-opsies te ondersteun wat meer weerbaar teen klimaatsverandering is.
Dis die boodskap van ’n ope brief aan wêreldleiers wat onderteken is deur meer as 70 landbouverwante organisasies, wat saam glo sowat 350 miljoen familieboere, vissers, veeboere en bosbouers reg oor die planeet verteenwoordig.
Die brief is gekoördineer deur die Food and Farm-afdeling van die internasionale unie vir die bewaring van die natuur (IUCN).
Onder die ondertekenaars is die World Rural Forum en die Alliance for Food Sovereignty in Africa. Die uitreik van die brief gister het saamgeval met die eerste formele dag van samesprekings tussen wêreldleiers op COP27 in die Egiptiese vakansiedorp Sharm El-Sheikh.
Dis die eerste klimaatsveranderingskonferensie sedert 2011 in Afrika en duur tot Vrydag 18 November.
Gesprekke oor voedselsekerheid en klimaatsfinansiering is hoog op die agenda.
“Tans is die wêreld se voedselstelsel nie bestand genoeg teen die impak van klimaatsverandering nie,” word in die brief geskryf.
Die Food and Farm-afdeling vra groter klem op ’n meer gediversifiseerde landboubedryf ten opsigte van gewasse en minder chemiese insette, en dat ryker lande heelwat meer geld beskikbaar sal stel dat die nodige aanpassings te midde van klimaatsverandering vroegtydig gemaak kan word. Slegs 1,7% van alle klimaatverwante besteding is teen 2018 aan Asië en Afrika suid van die Sahara toegewys.
“Ryker lande het in 2021 hul aanpassingsfinansiering tot $40 miljard per jaar teen 2025 op die Glasgow-klimaatsberaad verhoog.
Dis egter net ’n fraksie van wat nodig is,” sê die briefskrywers. Geen Suid-Afrikaanse organisasies tel onder die ondertekenaars nie. Heelwat plaaslike organisasies, aktivistegroepe, wetenskaplikes, regeringslui en medialede woon wel COP27 by.
Twee nuwe inisiatiewe
Gister het die VN twee nuwe inisiatiewe aangekondig om weerbaarheid teenoor droogtes te verbeter, en om beter vroeë waarskuwingstelsels teen byvoorbeeld vloede te ontwikkel.
Spesifieke tematiese dae word gedurende die samekoms van twee weke aangebied rondom byvoorbeeld energie, water en biodiversiteit. Die landbousektor, en veral aanpassings wat gemaak kan word om voedselstelsels te ondersteun te midde van ’n veranderende klimaat, word op 12 November bespreek.
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), reken COP27 is die belangrikste COP-samekoms ooit vir boere, omdat dit die eerste keer is dat die klem soveel op voedselstelsels val. Saai is ’n verteenwoordiger van Suid-Afrikaanse boere op die Wêreldboere-organisasie, en sal daarom ook op COP27 by beleidsgesprekke en onderhandelinge oor landboukwessies betrokke wees.
Luidens ’n verklaring deur Saai sal “die stem van Suid-Afrikaanse produsente” oor die volgende twee weke in meer as 30 vergaderings gehoor word oor kwessies soos aanpasbaarheid, metaangasvrystelling by herkouers, belastings en tariewe op vleis, wol en veen, koolstofkrediete, nuwe produksietegnologie en naspeurbaarheid. De Jager lei as voorsitter die afvaardiging van die Food, Agriculture and Natural Resources Policy Analysis Network, ’n netwerk sonder winsoogmerk van Afrika-regerings en steunbasisse wat diplomatieke status in Suid-Afrika geniet, na COP27.
Middelpunt
Hy sê boere moet in die middelpunt van beleidsvorming oor klimaatskwessies geposisioneer word. Boere is nie onverskillig wanneer dit by biodiversiteit, die natuur of klimaat kom nie.
“Inteendeel, niemand leef so naby aan die natuur soos die wêreld se boere nie. Hier in Suid-Afrika word groot moeite gedoen om dierewelstand en etiese protokolle in die produksie van vee- en plantgebaseerde voedselsoorte te volg sodat dit die minimum skade aan natuur en biodiversiteit tot gevolg het.
“Dit is nie in die belang van die mensdom om kapitaal of mag in die voedselstelsels te sentraliseer nie. Ons kan nie die wêreld se voedselvoorraad en verspreiding aan ’n paar groot maatskappye oorlaat nie.
“Die landbou is steeds die grootste verspreider van entrepreneurskap in die wêreld. Hoe meer individuele gesinne as klein, mediumgroot en selfs groter grondgebaseerde besighede bedryf word, hoe beter. Daar is geen ander sektor van ons ekonomie wat rykdom kan skep op ’n breër basis as wat die landbou dit kan doen nie.”
- In ander verwante nuus is mnr. Janse Rabie, Agri SA se hoof van regs- en beleidsake, as lid van Suid-Afrika se presidensiële klimaatkommissie aangestel.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.