
Dié bevinding hou groot kommer vir die landbousektor wêreldwyd in.
’n Span internasionale navorsers het berig dat sommige van die wêreld se belangrikste varswaterbronne – van die Kaspiese See tussen Europa en Asië tot Suid-Amerika se Titicacameer – die afgelope drie dekades water verloor teen ’n kumulatiewe tempo van sowat 22 gigaton per jaar. Dit is ongeveer 17 keer die volume van Lake Mead – Amerika se grootste reservoir.
Fangfang Yao, ’n oppervlakhidroloog aan die Universiteit van Virginia wat die studie in die joernaal Science gelei het, het gesê 56% van die afname in natuurlike mere is vanweë klimaatsverhitting en in ’n kleiner mate weens menslike verbruik.
Wetenskaplikes het met behulp van satellietmetings en klimaats- en hidrologiese modelle navorsing op bykans 2 000 groot mere gedoen. Hulle het bevind onvolhoubare menslike gebruik, veranderinge in reënval en afloop, sedimentasie en stygende temperature die vlakke van mere wêreldwyd laat daal het, met 53% van mere wat vanaf 1992 tot 2020 ’n afname toon.
Onvolhoubare menslike gebruik het mere soos die Aralsee in Sentraal-Asië en die Dooie See in die Midde-Ooste, laat opdroog. Mere in Afghanistan, Egipte en Mongolië is deur stygende temperature getref wat waterverlies na die atmosfeer verhoog het.
Watervlakke het in net ’n kwart van die mere gestyg, dikwels as gevolg van dambou in afgeleë gebiede, soos die Binne-Tibettaanse Plato.
Klimaatwetenskaplikes glo die wêreld se droë gebiede sal nog droër word namate die impak van klimaatsverandering meer gevoel word. Nat gebiede sal ook natter word en ’n beduidende waterverlies sal selfs in vogtige streke gesien word.
Die studie beklemtoon die belangrikheid om aardverwarming onder 1,5 °C te hou om die mees katastrofiese gevolge van klimaatsverandering te vermy.
Die wêreld verhit tans teen ’n tempo van ongeveer 1,1 °C per dekade.
Klik hier om die studie te lees.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.