Die konsep van klimaatvriendelike landbou is Woensdag (7 Desember 2011) deur wêreldleiers op die COP17-klimaatberaad in Durban amptelik bekend gestel.
Die geleentheid wat deur me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gereël is, is onder andere bygewoon deur pres. Jacob Zuma, mnr. Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, mnr. Meles Zenawi, eerste minister van Ethiopië en mnr. Jean Ping, voorsitter van die Afrika-Unie-kommisse.
Landbou is belangrik
Almal het hulle oor die belangrikheid van landbou en klimaatvriendelike landboupraktyke te midde van klimaatsverandering uitgespreek.
Annan het gesê die wêreld se ekonomiese krisis moet nie as ’n verskoning gebruik word hoekom daar nie by oplossings uitgekom kan word nie.
Dit moet as ’n waarskuwing dien. As ál die tekortkominge nie op die beraad opgelos kan word nie, moet daar ten minste voortgebou word op wat reeds bereik is.
Zuma het gesê voedselsekuriteit, armoede en klimaatsverandering is verbind tot mekaar en moet nie afsonderlik oorweeg word nie. Klimaatvriendelike landbou kan ’n drieledige oorwinning ten opsigte van voedselsekerheid, aanpassing en minder besoedeling beteken.
Zuma sê dit sluit metodes in, soos bewaringsbewerking, wisselbou, geïntegreerde gewas- en veeteeltbestuur (crop-livestock management), beter weidingsbestuur, beter grond- en waterbestuur, beter weervoorspellings en die benutting van droogteverdraagsame gewasse.
Hoër opbrengste
Zuma sê daar is verskeie studies wat toon dat organiese boerderymetodes by kleinboere in ontwikkelende lande tot hoër opbrengste kan lei en daardeur voedselsekerheid onder armes kan verbeter.
Hy vra dat beleggings in landbou-ontwikeling en aansporings aan boere aangevul word met makro-ekonomiese beleid wat volhoubaarheid verseker. Beleggings in navorsing, infrastruktuur en mensekapitaal, tesame met ’n beter beleid en instellings, is die drywers vir produktiwiteit en groei in landbou.
Joemat-Pettersson het beklemtoon dat boere by die konsep moet inkoop, dit hulle eie maak en vir hulself praat. “Daar moet nie toegelaat word dat politici en wêreldleiers namens boere oor ’n landbou-agenda moet besluit nie.
"Daar word ook te veel menings aan die konsep klimaatvriendelike landbou geheg. Daar moet eenstemmigheid wees oor wat dit beteken.”
8 Desember 2011