Met die aanvang van demokrasie het min mense gedink Suid-Afrika sal ná byna drie dekades steeds sukkel met die verskynsel van “twee landbousektore”. Onlangse studies toon dat swart Suid-Afrikaanse boere minder as 10% van die land se totale landbou-uitsette produseer.
Vordering is wel gemaak met swart boere wat kommersiële produksie en die verskaffingsketting betree het. ’n Kombinasie van faktore het egter die kloof tussen die kommersiële landbou, wat hoofsaaklik uit wit boere bestaan, en bestaansboere, wat hoofsaaklik uit swart boere bestaan, verdiep.
Die blaam word dikwels voor die deur van die private sektor gelê. “Ons siening is dat dit ’n onvoldoende verduideliking is,” skryf prof. Johann Kirsten, direkteur by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch, en mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, in die aanlyn publikasie theconversation.com.