
Dis omdat die land nou baie vining in ‘n rigting beweeg waar een groot politieke party nie meer ’n vernietigende beleid op die land kan afdwing nie. Die staat gaan nie die kapasiteit hê om sy beleid uit te voer nie. Daarom verminder die risiko’s nou heelwat vergeleke met vier of vyf jaar gelede, meen dr. Frans Cronjé, politieke strateeg. Hy het gepraat op ’n konferensie van Vrystaat Landbou (VL) in Bloemfontein, wat ondersoek ingestel het na landbou se toekoms in ’n veranderende politieke en ekonomiese omgewing.
“Die staat se geld is op en hy het nie die hulpbronne om dienste te lewer en werk te skep nie – twee dinge wat volgens peilings deurlopend boaan kiesers se wenslys is,” het Cronjé, deesdae ’n onafhanklike politieke en ekomiese ontleder en strateeg, gesê.
Hy het ’n verband getrek tussen dalende ekonomiese groei en dalende steun vir die regerende party. “Dis ’n neiging wat hom herhaal in die geskiedenis. ’n Begrotingstekort is ’n baie geloofwaardige leidende aanwyser van ’n veranderende politieke stelsel. Ons het dit gesien met die gebeure ná PW Botha se Rubicon-toespraak, en ons is nou weer daar.”
Dit beteken in praktyk dat Suid-Afrika ná die 2024-verkiesing heel waarskynlik ’n koalisie-regering gaan kry. Cronje het dié scenario ’n kans van 40% gegee, terwyl die scenario waar die ANC in sy huidige formaat kan vasklou aan mag tot die volgende verkiesing in 2029 ’n waarskynlikheid van 35% gekry het. Hy skat die kanse dat die ANC se RET-faksie deur middel van ’n koalisie in 2024 aan die bewind kan kom – met gevolglike politieke en ekonomiese ineenstorting – op 20% en die kans dat die ANC oortuig kan word om staatskaping nek om te draai, sy beleid te hervorm en vertroue in Suid-Afrika te herstel, word op net 5% geskat.
Cronje het voorspel dat nuwe politieke opsies kom wat ’n groot verskil kan maak aan die rigting waarheen Suid-Afrika polities op pad is. “Een party sal nie meer ’n radikale agenda kan afdwing op ’n ander een nie: Ons sal koalisiepolitiek sien soos dit in Duitsland of Israel beoefen word.”
Steeds baie geleenthede
Daar is steeds baie geleenthede in Suid-Afrika, veral as jy die dienste kan lewer wat die staat nie doen nie, het mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, gesê.
Hy het gesê die omvang van die staat se verval is so erg dat selfs die primêre funksies van die staat vandag geprivatiseer is. Daar is byvoorbeeld reeds meer private sekuriteitslede as wat daar polisielede is. Dieselfde geld onderwys en vele ander staatsfunksies.
Daarom glo hy ook dat die planne om ’n nasionale gesondheidsversekeringsfonds te vestig, nie sal slaag nie. “Dis die voordeel van ’n onbevoegde regering. Hy kan nie eens ’n slegte idee in werking stel nie.”
Roodt het gewaarsku dat ekonomiese groei waarskynlik vanjaar nie hoër as 2% sal styg nie weens die terugslae wat die krisis in die Oekraïne ook vir die Suid-Afrikaanse ekonomie veroorsaak. Roodt glo nie dat Wladimir Poetin die Russiese magte aan die Oekraïne sal onttrek nie en dat dit waarskynlik tot langtermyn-konflik sal lei – met langtermyn- ekonomiese gevolge.
“Boere in Oekraïne plant minder as gevolg van die oorlog, maar daar is ook in ander dele van die wêreld kleiner aanplantings weens die hoë insetpryse. Dus kan internasionale landbou-opbrengste swakker wees as wat aanvanklik verwag is en hoë graanpryse kan ’n ruk lank ons voorland wees.” Dit skep nuwe markte vir Suid-Afrikaanse boere, om onder meer graan uit te voer na Noord-Afrika, wat gewoonlik sy voorraad uit Oekraïne en Rusland kry.