Die verval by die Landboukollege Potchefstroom word deur die kollegebestuur op die studente blameer, sê AfriForum Jeug.
Mnr. Ian Cameron, ‘n verteenwoordiger van die organisasie, sê hy en mnr. Franklin Jackson, ‘n onafhanklike veiligheid- en gesondheidsinspekteur van JSC Safety Services, het die kollege Donderdag (9 Desember) , besoek. “Jackson sê daar is definitief rede vir die klagtes wat ons van studente ontvang het. ‘n Volledige verslag oor die toestand by die kampus sal Maandag (13 Desember) beskikbaar wees,” aldus Cameron.
Lees ook:
Studente se skuld
Cameron sê intussen het hy tydens die besoek toevallig die kollege se dekaan vir studentesake raakgeloop en vir hom gevra hoekom die kollege soos agteruitgaan. “Hy het gesê die kollege lyk so weens vandalisme deur studente. Toe ek hom vra of die studente dan vir die lang gras en vervalle plafonne verantwoordelik is, het hy steeds net gesê die studente vandaliseer die kollege.”
Volgens Cameron kon hulle slegs enkele brandblussers op die kampusgronde vind, maar geen van dié brandblussers is onlangs nagegaan om seker te maak dit werk nie. “Baie koshuise het geen brandblussers of brandslange nie.”
‘n Skoonmaker, wat al nege jaar by die kollege werk, sê dinge het sedert mnr. Dipepeneneng Serage, die hoof van die kollege, aangestel is, agteruit begin gaan. “Die situasie is tans so erg dat die koper van kragdrade wat by dakke uithang of in gange hang gesteel word. Die skoonmaker sê hulle moet ook die hele tyd al hulle goed toesluit, aangesien hulle besittings en studente se besittings gesteel word.”
Kyk na 'n fotogalery van die toestand van die kollege.
Stappe
Cameron sê die organisasie sal binnekort in Pretoria vergader om verdere stappe te bespreek. “Serage was glo op kampus tydens ons besoek, maar toe ons gaan vra om met hom te praat, het hy verdwyn,” vertel Cameron.
10 Desember 2010