Die gehalte van onderrig aan landboukolleges en die mate waartoe dit aan standaarde voldoen, en geakkrediteer is om diplomas toe te ken, is ’n bron van groot kommer.
’n Proses is van stapel gestuur om die onderrigstandaarde by Suid-Afrikaanse landboukolleges te ondersoek met die oog op herakkreditasie. Die kolleges, wat die afgelope tyd in die nuus is oor kwynende akademiese standaarde, is in 2004 en 2005 laas deur enige akkreditasie-instansie besoek, sê me. Tamara Bezuidenhout, waarnemende senior bestuurder vir program-akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys.
Kort nadat die komitee vir hoër onderwys van gehalte tot stand gekom het, het dit vanaf 2001 tot 2003 ’n mandaat aan die komitee van technikonhoofde gegee om landboukolleges te besoek om die gehalte van onderrig daar te evalueer. In 2004 en 2005 het die komitee vir hoër onderwys van gehalte self opvolgbesoeke gedoen om die vordering by landboukolleges sedert die vorige besoeke te monitor.
Vanaf 2006 tot 2009 het landboukolleges voortgegaan om aan die onderskeie provinsiale en nasionale departemente verslag te doen. In 2010 het die department van Landbou, Bosbou en Visserye die komitee genader om die kolleges te herakkrediteer, veral omdat hulle veronderstel is om eersdaags in landbou-opleidingsinstitute omskep te word.
Bezuidenhout sê die komitee is besig met ’n proses van herakkreditasie by 8 van die 12 landboukolleges in Suid-Afrika. Dit is egter nie ’n uitgemaakte saak dat elke kollege besoek sal word nie. Die komitee het ’n stel kriteria en minimum standaarde waaraan alle hoër onderwysinstansies moet voldoen.
“Die minimum standaarde gaan gebruik word om die voorleggings deur landboukolleges te beoordeel en te bepaal of ’n besoek nodig is. Die komitee vir gehalte hoër onderwys kan hulle in die besluit om ’n kollege te besoek ook laat lei deur ander faktore, soos klagtes aan hulle gestuur.”
23 Maart 2011