
AfriForum het met die uitreiking van sy jaarlikse plaasmoordverslag gesê die getal plaasaanvalle het gedaal van 415 in 2021 tot 333 in 2022. Die getal moorde het van 55 in 2021 tot 50 in 2022 gedaal.
Mnr. Ernst Roets, bestuurshoof van strategie by die organisasie, het gesê in onderhoude wat hy vir veldtogte en die skryf van sy boek Kill the Boer met slagoffers gevoer het, was daar verbasend baie wat die aanvalle nie by die polisie aangemeld het nie. Mense het gesê dit is omdat hulle nie glo dat die polisie iets daaraan gaan doen nie.
“Ek dink nie die publiek se vertroue in die polisie was al ooit so laag soos nou nie,” het mnr. Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, gesê.
Volgens Roets gebeur dit al ’n tyd lank dat mense toenemend eerder hul private sekuriteitsfirma of plaaslike gemeenskapsveiligheidsnetwerk, soos dié van AfriForum, kontak wanneer daar ’n voorval is.
“Dit is ook nie (vir die media) nuuswaardig wanneer iemand op ’n plaas aangeval is en die persoon nie doodgemaak is nie.”
Die syfers oor plaasmoorde sal ná aan die werklike syfers wees, maar oor plaasaanvalle is dit moeilik om akkurate syfers te kry, het Roets gesê. “Ons kan met taamlike sekerheid sê dat die werklike getal plaasaanvalle in 2022 baie hoër is as die getal wat ons kon verifieer.”
Gemeenskappe meer paraat
Mnr. Johan Nortjé, navorser by AfriForum, het gesê die daling in syfers kan benewens onderaanmelding ook wees danksy groter veiligheidsbewustheid of meer veiligheidsmaatreëls in die plaasgemeenskap.
Roets sê ’n mens kan op grondvlak sien dat mense meer waaksaam is. “Meer mense is betrokke by gemeenskapsveiligheidstrukture, mense maak meer staat op private sekuriteit, ry patrollie en veral in landelike gebiede is mense meer betrokke.”
Volgens Nortjé toon gevalle waar verdagtes binne 24 uur van ’n voorval of die vind van ’n liggaam in hegtenis geneem word, dat gemeenskappe daar aktief betrokke was, hetsy deur die deel van inligting of om uit te gaan en die polisie te help. “Dit is absoluut noodsaaklik dat dié verhoudinge behandhaaf en gekoester word.”
Volgens Roets is sigbaarheid baie belangrik. Wanneer potensiële misdadigers oorweeg om ’n misdaad in ’n gebied te pleeg, moet hulle kan sien dat die mense daar betrokke is by veiligheid, patrollie ry en in radiokontak met mekaar is. Die potensiële misdadiger moet weet dat sy kans om daar gevang te word, hoër is, het Roets gesê.
Hoë vlakke van geweld betrokke
Volgens Nortjé toon die jongste plaasmoordverslag dat die geweld wat met plaasmoorde gepaard gaan, nie afgeneem het nie. Wanneer slagoffers geskiet word, word hulle dikwels meer as een keer geskiet. Mense word verwurg, doodgekap en doodgeslaan. In een geval is ’n paartjie in hul huis doodgebrand en in ’n ander voorval is ’n voorman doodgekap toe hy die boer te hulp wou snel.
Internasionale bewusmaking
AfriForum ervaar volgens Roets ’n toenemende bewustheid op internasionale vlak oor plaasmoorde en -aanvalle in Suid-Afrika, nie noodwendig by Jan Alleman nie, maar by staatsamptenare, nieregeringsorganisasies, politici in komitees oor buitelandse betrekkinge en joernaliste.
Die boek Kill the Boer word in Hongaars vertaal en sal later vanjaar in Boedapest, hoofstand van Hongarye, bekend gestel word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.