Sou die Namibiese regering swig onder die druk van uraanmyners om dié erts binne en rondom artesiese akwifers te mag ontgin, kan dit vergifting van water tot gevolg hê.
Dit is volgens twee Namibiese kenners wat “uiters bekommerd” oor dié bedreiging is: dr. Roy McG Miller, ’n bekroonde raadgewende geoloog, skrywer en grondwaterkundige in Namibië, en mnr. Divan Opperman, ’n boer in dié land se distrik Leonardville en voorsitter van die Stampriet Artesiese Uraanmynbou-vereniging.
Hulle sê aan Landbou.com Namibië se ministerie van landbou, water en grondhervorming het teen middel Desember 2022 geweier om nuwe boorpermitte vir uraanmynbou naby of in dié land se artesiese akwifers uit te reik. Dit bly egter onbekend of die hele Namibiese regering dit ondersteun.