
Maatskappye wat gerig is op die ontwikkeling van nuwe tegnologie, is bekommerd oor die Departement van Handel en Nywerheid se planne om nuwe konsepwetgewing oor intellektuele eiendomsreg (patentereg) ter tafel te lê.
Dié wetgewing bevat voorstelle om patentereg te omseil deur beperkinge te plaas op die houer van die patentereg sodat dit moeilik is om op te tree as ’n patent onwettig gebruik word.
Mnr. Kobus Steenekamp, sakebestuurder van Monsanto SA, sê almal moet mooi kyk wat dit behels en wat die moontlike gevolge kan wees. “Soos met die e-tolstelsels kan die doel dalk goed wees, maar as iets met die toepassing verkeerd is, kan dit tot baie probleme lei.” Hy sê omdat die veranderinge sterk op die farmaseutiese bedryf gerig is, het dié bedryf waarskynlik meer aandag daaraan geskenk. Monsanto SA het egter ook al verkennende gesprekke met regsraadgewers oor die moontlike implikasies gehad.
Dr. Anthea Jeffery, hoof van spesialisnavorsing by die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, is bekommerd dat die beoogde wetgewing intellektuele eiendomsreg moontlik gaan ondergrawe. Sy sê dit is al bewys dat lande waar eiendomsreg (én intellektuele eiendomsreg) beskerm word, baie beter daaraan toe is wat bruto binnelandse produk, gesondheid en lewensverwagting betref.
Steenekamp sê as daar nie erkenning vir patenteregte is nie, kan maatskappye besluit om hul tegnologie van ’n land te weerhou. Hy sê dit is aanvaarbaar en almal besef dat patentereg mettertyd moet verval en tegnologie goedkoper word met meer generiese
produkte.
“Dit spoor weer maatskappye aan wat op navorsing en ontwikkeling gemik is om ’n volgende vlak van vernuwing te betree. Maar dit is belangrik dat die intellektuele regte vir ’n tyd lank beskerm moet word ter wille van die koste wat aangegaan word met die ontwikkeling.”