Kommer heers dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming die nasionale verwysingsgroep (Nareg) wat aan die ses belangrikste kwessies in die voorgestelde groenskrif oor grondhervorming moet skaaf, dit wil aanjaag om sy werksaamhede en konsultasie teen middel Maart af te handel.
Dít terwyl twee van die betrokke werkgroepe – dié oor kommunale besitreg en grondregtebestuur – nog feitlik geen vordering gemaak het nie. Tradisionele leiers het slegs die stigtersvergadering van die Nareg bygewoon en sedertdien nog nie weer nie.
Die Nareg het die derde keer sedert sy totstandkoming in November verlede jaar op 17 Februarie in Boksburg vergader. Die ses werkgroepe (dié oor die drievlakgrondbesitstelsel, oor die kantoor van die waardeerder-generaal, oor grondregtebestuur, oor kommunale besitreg, oor wetgewende wysigings en die grondbestuurskommissie) het terugvoer op die vergadering verskaf.
Beswaar aangeteken
Die TLU SA het skriftelik beswaar teen aspekte van die proses by minister Gugile Nkwinti aangeteken. Agri SA het aangedui dat hy sy kommer oor die beperkte tyd vir voltooiing van die werksaamhede waarskynlik onder die minister se aandag sal bring.
“Daar is nog heelwat werk wat gedoen moet word. Verskeie vergaderings wat gereël was, is uitgestel. In die volgende drie weke lê harde werk voor om die sperdatum van middel Maart te haal,” sê me. Annelize Crosby, aangewese verteenwoordiger van Agri SA in Nareg.
Volgens mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, maak die organisasie beswaar daarteen dat vergaderings opkort kennisgewing en sonder ’n sakelys belê word omdat dit voorbereiding bemoeilik. Hy sê Nkwinti het in ’n nuusonderhoud op TV ná die jongste vergadering die indruk gewek dat sekere besluite, soos dié oor prysregulering van eiendomstransaksies, reeds geneem is, wat die werk van Nareg ongedaan maak.
27 Februrie 2012