
Die kommissie se Augustus 2022-ontleding dui op skerp prysstygings vir sonneblomolie regdeur die waardeketting.
Dit ondersoek ook die pryse van ’n reeks noodsaaklike voedselprodukte (brood, kookolie, mieliemeel, rys, meel, margarien en pasta) op klein- en groothandelvlak. Luidens ’n verklaring het die kommissie ook ’n ondersoek na varsproduktemarkte begin om te bepaal of daar kenmerke in dié markte is wat mededinging belemmer.
Dié verslag, wat die monitering van noodsaaklike voedselpryse in 2021 en 2022 insluit, konsentreer ook op die verskille van voedselitems se pryse by die plaashek teenoor waarvoor dit in winkels verkoop word.
Bevindinge in verslag
• Van Januarie 2022 tot Desember 2022 het wit- en bruinbrood-kleinhandelpryse (20% en 19% onderskeidelik) vinniger gestyg as produsentepryse (15% vir witbrood en 14% vir bruinbrood). Dít impliseer dat die rakprysverhogings (R15,47 tot R18,62 vir witbrood en R13,99 tot R16,61 vir bruinbrood) nié deur koste geregverdig word nie.
• Die prys van mieliemeel het van Januarie tot Desember 2022 met 32% gestyg van R26,62 tot R35,29 vir 'n 2.5kg pak, terwyl die Suid-Afrikaanse termynbeurs-prys van wit mielies teen ’n stadiger tempo gestyg het. Dit het gelei daartoe dat boere se aandeel in die mielieprys ’n kleiner deel van die kleinhandelprys van mieliemeel oor die jaar is. Die kommissie beskou dit as opportunistiese gedrag dwarsdeur die waardeketting wat ook vrae laat ontstaan oor die gebruik van uitvoerpariteitspryse in die mieliewaardeketting.
• Die pryse van vrugte en groente was oor die algemeen wisselvallig gedurende 2022 en ’n diepgaande waardekettingontleding sal gedoen word.
Pluimveewaardeketting
• Die prys van grane en oliesade wat gebruik word om veevoer te vervaardig – koring, mielies, sojabone en sonneblomolie – was wisselvallig en het gedurende 2021 en 2022 gestyg.
• Oor dieselfde tydperk was die prys van pluimveevoer relatief stabiel.
• Daar word voorspel dat grondstofkoste oor die eerste helfte van 2023 kan daal. Die kommissie sal die mate waartoe hierdie verlagings na voer- en hoenderpryse op kleinhandelvlak oorgedra word, monitor.
• Voerpryse het vinniger gestyg as die produsenteprys van individueel bevrore stukke, wat die hoenderprodukte is wat die meeste in Suid-Afrika verbruik word.
• Toe die invoer van hoendervleis uit die Europese Unie verbied is in reaksie op die voëlgriep-uitbreking het binnelandse produsentepryse gestyg. Hierdie afwyking vereis ook verdere ondersoek en die kommissie sal die ontwikkelinge in die pluimveesektor dophou.
“Die voedselsektor bly ’n prioriteit vir die kommissie omdat verbruikers ’n aansienlike deel van hul inkomste aan noodsaaklike voedselitems bestee. Voedselinflasie bly hoog en beurtkrag raak sakebedrywighede oral.
"Daarom sal voedselprysmonitering ’n prioriteit vir die kommissie bly vir die welsyn van Suid-Afrikaners,” sê Sipho Ngwma, hoofkommunikasiebampte.