
Probleme rondom die beskikbaarheid van voertuie vir veediefstaleenhede in die Vrystaat besorg steeds hoofbrekens.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, sê ’n verslag oor die stand van sake is aan die provinsiale polisiekommissaris gestuur.
Breytenbach verwys spesifiek na gevalle in Wepener waar die eenheid nie voertuie beskikbaar het nie. “Van die beamptes sê hulle moet ’n geleentheid iewers kry om soms hofsake op ander dorpe te gaan bywoon.”
Verder voer baie van die eenhede aan dat hul voertuie by werktuigkundiges is. “Maar hoe is dit dat in die dag en tyd waarin ons leef die voertuie vir weke aaneen by ’n werktuigkundige staan?”
Grens
Intussen sê Breytenbach hulle wag op terugvoering van die staat oor voorstelle wat rondom die Lesotho-grenssaak ter tafel gelê is. Onderhandelinge in dié verband het verlede maand in Pretoria plaasgevind, maar ’n ooreenkoms kon nie bereik word nie.
Verskille bestaan onder meer oor spesifiek twee voorstelle rakende die polisie, en Breytenbach sê die staat moet voor die einde van die maand antwoorde daaroor aan die VL verskaf. Sou ’n ooreenkoms nie bereik kan word nie, sal die VL verdere regsaksie oorweeg.
Landbou.com wag nog op terugvoering van die polisie oor dié kwessie.