
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was daar 12 000 minder werksgeleenthede in die landbousektor gedurende die vierde kwartaal van 2022.
Georganiseerde landbou het sy besorgdheid hieroor uitgespreek. Dié daling is volgens Agri SA rede tot kommer.
Die SSA-verslag dui daarop dat 169 000 werksgeleenthede tussen die derde en vierde kwartaal van 2022 in die land geskep is. Die totale aantal mense in diens was 15,9 miljoen in die vierde kwartaal van 2022.
Die amptelike werkloosheidsyfer het met 0,2 van ’n persentasiepunt afgeneem van 32,9% in die derde kwartaal van 2022 tot 32,7% in die vierde kwartaal.
“Hoewel die verlies aan werksgeleenthede vir eers marginaal is, dui dit op die toenemend uitdagende omgewing waarbinne boere werk. Die sektor het getoon dat dit merkwaardig veerkragtig is en is selfs gedurende die hoogtepunt van die covid-19-pandemie onder die beste presterende sektore gevaar het,” luidens Agri SA se verklaring.
“Die gety vir een van die land se mees arbeidsintensiewe sektore draai soos stygende insetkoste, voortdurende beurtkrag en verbrokkelende infrastruktuur baie erg druk op die landbousektor plaas.”
Volgens Agri SA is daar klarigheid nodig oor die regulasies oor die ramptoestand weens die kragkrisis nodig. Die regulasies is Maandag in die Staatskoerant gepubliseer. Lees hier meer.
“Al is voedselproduksie en berging van voedsel in die regulasies ingesluit as deel van noodsaaklike infrastruktuur, is meer detail nodig oor presies wat dit gaan behels en watter verligting dit vir boere gaan beteken.”
Agri SA vra ook die verlenging van die dieselrabat moet gepaard gaan met die versnelling van die verwerking van eise en ’n vermindering in die rompslomp wat die stelsel tans belemmer. “Dit is die enigste manier om die voortdurende las van beurtkrag op boere te verlig.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.