Die Mededingingskommissie kon billiker opgetree het. Dít was mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, se reaksie nadat dié maatskappy kwytgeskeld is van ’n beweerde oortreding van die Mededingingswet.
Onskuldig
Vyf regters van die Appèlhof in Bloemfontein het bevind dat Senwes nie aan sogenaamde margedruk op mededingers skuldig bevind kon word nie omdat dié beweerde oortreding nie deel van die oorspronklike aanklagte teen hom was nie.
Die klagte waaruit die saak voortgespruit het, het oor onder meer die beweerde diskriminerende heffing van silo-opbergingstariewe gehandel. Dit is in 2005 deur ’n graanhandelaarmededinger, CTH Trading, teen Senwes aanhangig gemaak.
“Dit is soos om iemand in die kriminele reg kwyt te skeld van aanklagte wat teen hom gebring is en skuldig te bevind aan ’n ander aanklag,” het appèlregter Fritz Brand in sy uitspraak oor die Mededingingstribunaal se aanvanklike skuldigbevinding van Senwes gesê.
Appèl verwerp
Die appèlregters het ook beveel dat die Mededingingskommissie Senwes se regskoste moet betaal. Dié uitspraak kom nadat die Mededingingstribunaal Senwes skuldig bevind het aan margedruk op sy mededingers.
Die Mededinging-appèlhof het die landboumaatskappy se appèl teen dié bevinding verwerp. Strydom het in sy reaksie op die uitspraak in die Bloemfonteinse Appèlhof, die hoogste hof van appèl, gesê hulle is verheug dat die saak uiteindelik afgehandel is.
“Dit is egter jammer dat soveel tyd, regskoste en kosbare maatskappy-hulpbronne daaraan bestee moes word.” Hy het bygevoeg dat Senwes van meet af aan sy volle hulp en samewerking aan die kommissie aangebied het.
“Dit is ’n onbenydenswaardige posisie om in te wees, veral as die kommissie en die media reeds voordat die toepaslike prosesse gevolg is, aanneem dat ’n party outomaties skuldig is,” het Strydom gesê.
13 Junie 2011