
Die nuwe platform, Agri Harvest, bemiddel finansiering aan die landbousektor en hoop om só die plaashekpryse vir boere te verlaag.
Mnr. Wimpie Snyman, senior bankier by RMB, sê die platform vloei voort uit die bank se begrip vir die landbousektor se dringende behoefte aan ’n plek waar boere toegang kan kry tot finansiering deur institusionele en ander kommersiële beleggers.
RMB wil oor ’n tydperk van drie jaar R15 miljard se bates op die platform daarstel. Volgens hom sal die platform ook die koste verlaag vir landbou-ondernemings en banke om finansiering vanaf kapitaalmarkte te verkry.
Die platform is nie op die oomblik beskikbaar vir individuele boere of entrepreneurs nie.
Dit is ’n onafhanklike platform en onafhanklike regsentiteit. RMB is dus nie die enigste finansier of belanghebbende nie, maar dis oop vir verskillende belanghebbendes in die landbousektor.
Landboubesighede kan byvoorbeeld met die platform hul finansieringsbasis diversifieer teen potensieel laer koste as ’n tradisionele handelsbank se finansieringsmodel. Dit wil daarom ’n wye spektrum finansiers byeenbring.
“Hierdie is ’n instrument vir makelaars wat aan boere lenings gee om ander beleggers aan boord te kry en boere só te help met finansiering. Só word beleggers gebruik om boere te help finansier,” sê mnr. Chris Alderson, medehoof van skuld- en handeloplossings by RMB.
Die eerste transaksie met GWK is juis in Julie op die platform afgehandel. GWK het R1,4 miljard se finansiering ontvang via die platform. Dié kapitaalmarkveiling is deur Stanblib, Ashburton Investments en RMB gesteun.
Snyman het aan Moneyweb gesê daar is geleentheid op die mark vir die platform.
Land Bank
Op ’n vraag of die platform die rol van die Land Bank kan oorneem, sê hy dis nie die bedoeling daarvan nie.
“Die doel is nie om ’n oplossing te wees vir die totale Land Bank-boek nie, maar wel een vir ’n groot deel daarvan te word.
“Ons glo die produk sal ’n sleutelrol speel in die landbousektor wat die hoeksteun van voedselsekerheid is en ’n noodsaaklike deel is van die maatskaplike en ekonomiese samestelling van Suid-Afrika,” volgens Alderson.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.