
Mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, het in sy begrotingsrede aangedui dat restitusie steeds ’n groot voorrangsaak vir die Regering is en dat die betrokke departement groter aandag daaraan wil gee.
Die departement se begroting vir die boekjaar 2018-’19 is R10,4 miljard en vir die daaropvolgende twee jare onderskeidelik R11 miljard en R11,7 miljard. Die departement wil oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBR) sy navorsingsproses vaartbelyn maak deur konsultante aan te stel om die uitstaande 2 851 eise en eisers te verifieer en grondwaarderings te doen.
Oor die MTBR is R10,8 miljard vir restitusie begroot om eise af te handel. Dit maak 32,3% van die departement se totale begroting oor die tydperk uit en R331,6 miljoen word vir konsultante begroot. Die departement het al by die Parlement se portefeuljekomitee raas gekry toe hy van 2005 tot 2008 meer as R1,4 miljard aan konsultante bestee het. Dit was omdat hy van afgetrede werknemers of diegene wat pakette geneem het vir spesiale projekte moes gebruik.
Produktief en winsgewend
Die nasionale Tesourie dui aan dat die departement R4,2 miljard oor die loop van die MTBR eenkant gesit het vir die koop van 291 000 hektaar strategies geplaasde grond en “om te verseker dat die grond wat herverdeel word, produktief en winsgewend word”.
Altesaam R8,7 miljard is oor dieselfde tydperk beskikbaar vir grondhervormingsprogramme, wat 26,2% van die departement se begroting oor die tydperk uitmaak. Die orige R4,6 miljard sal na verwagting gebruik word vir die een-huishouding-een-hektaar-inisiatief, die herkapitalisering van bestaande projekte en die waardering van grond wat vir grondhervorming geoormerk is.
Sedert die aanvang van die herverdelingsprogram van die departement in die boekjaar 2008-’09 is 1 787 plase tot stand gebring uit die meer as 4,7 miljoen hektaar grond wat herverdeel is. Altesaam R1,5 miljard word oor die MTBR toegestaan vir die grondhervormingsprogram om hierdie en ander verwante aktiwiteite uit te voer.
Eeue nodig vir grondhervorming
Verlede jaar het ’n onafhanklike hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe na grondhervorming gekyk. Die paneel het ondersoek ingestel na die doeltreffendheid van sleutelwetgewing wat die Parlement sedert 1994 gepromulgeer het. Daar is bevind dat teen die pas waarteen bestaande grondeise voltooi word, én as nuwe eise dieselfde roete volg, dit Suid-Afrika langer as sewe eeue kan kos om die proses te voltooi.
Of die Regering genoeg geld en die vermoë het om aan die verwagtinge van die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 22 van 1994) te voldoen, bly steeds die kern van die omstredenheid oor restitusie. Die paneel het onder meer bevind dat die wanneer die Regering grond vir grondhervormingsdoeleindes moet aanskaf, die betaling van vergoeding nie die ernstigste struikelblok is nie.
Die groot probleme wat grondhervorming kelder, is korrupsie deur amptenare, die herlei van die begroting vir grondhervorming vir die elite, ’n tekort aan politieke wil en onvoldoende opleiding en vermoë. Intussen soek die Regering na ’n manier om onteiening sonder vergoeding, soos deur die regerende ANC voorgestel is, moontlik te maak om sy grondhervormingsideale vinniger te bereik.