
Sekere koolgewasspesies het die vermoë om grondgedraagde siektes te onderdruk, en navorsers ontdek al hoe meer gebruike daarvoor en doeltreffender maniere om dit aan plante en die grond toe te dien.
Tydens die sesde tweejaarlikse internasionale bioberokingsimposium by Spier buite Stellenbosch was dit duidelik dat navorsers optimisties is oor die moontlikhede van bioberoking, veral noudat al hoe meer konvensionele plaagdoders verbied word.
As daar van bioberoking gepraat word, is mosterd of kanola as dekgewasse of wisselbougewasse om veral aalwurms te onderdruk, dikwels die eerste ding wat by mense opkom. Dit is inderdaad so, het verskeie navorsers by die simposium beaam.
Hulle het ook navorsing bekendgestel wat toon dat kanola maar ’n swak bioberokingsgewas is, maar dat ander gewasse soos mosterd (Brassica juncea) en swarthawer (Avena strigosa) spinasieverlepsiekte in groentekweekhuise in Japan kan onderdruk en nuwe formulasies met ontvette saadmeel van sekere koolgewasspesies as basis gebruik kan word om weerstandbiedende onkruid te bestry.
Navorsing deur dr. Matthew Back van Harper Adams Universiteit in Engeland toon dat dit lyk of gewasse soos mosterd en oliesaadradys (oilseed radish) (Raphanus sativus) die lewensvatbaarheid van aalwurmeiers kan onderdruk.
Die laaste woord oor hoe bioberokingsgewasse en middels toegedien moet word om die meeste voordeel daaruit te kry, is nog nie gespreek nie. Mnr. William Watt, ook van Harper Adams Universiteit, het gevind dat mosterd wat fyn gekap en ingewerk word, terwyl navorsers by die Italiaanse raad vir landbounavorsing en -ekonomie (CREA) bioberokingsmiddels in verskillende formulasies, naamlik korrels, ’n blaarbespuiting en ’n vloeibare wortelbehandeling, ontwikkel het. Die middels is word van ’n soort roket (Eruca sativa) en mosterd gemaak.
Dr. John Kirkegaard van die CSIRO in Canberra, Australië, het gesê boere sal meestal net bioberokingsgewasse as groenbemesting in hul boerderystelsels insluit as dit ook ander voordele het, byvoorbeeld die verbetering van grondstruktuur, vermindering van erosie en die instandhouding van grondvrugbaarheid en voeding.