
Werk aan die wetgewing het reeds in 2006 begin, en die Tesourie hoop dat dit vanaf 1 Junie vanjaar in werking sal tree. Die wetgewing is tans by die staande komitee op finansies, wat die finale weergawe moet instem voordat dit na pres. Cyril Ramaphosa vir goedkeuring gestuur word. Die komitee het reeds aangedui hy beoog om in sy eerste sitting, na die heropening van die Parlement op 7 Februarie, oor die wetgewing te stem.
Die regering sien die wetgewing as ’n fundamentele deel van die stelsel om regeringsbeleid oor klimaatsverandering te implementeer.
Die wet gee uitvoering aan die beginsel dat die besoedelaar vir sy oormatige koolstofvrystellings moet betaal. Indien die wetgewing betyds onderteken word, sal die eerste siklus strek van 1 June 2019 tot 31 Desember 2022. Die tweede siklus, waarby landbou en bosbou ingesluit sal word, sal strek van 2023 tot 2030.
Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die Parys-ooreenkoms om klimaatsverandering teen te werk. ’n Wetsontwerp oor klimaatsverandering het verlede jaar die lig gesien, wat nog by die Parlement ingedien moet word.
Impak op landbou
Hoewel die koolstofbelastingwet vir eers nie op primêre landbou betrekking sal hê nie, sal dit egter nie sonder impak wees nie.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by Agbiz, verduidelik ’n onderneming is tans reeds aanspreeklik vir koolstofbelasting wanneer hy sy kweekhuisgasvrystellings aan die Departement van Omgewingsake moet rapporteur ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Luggehalte (Wet 39 van 2004). Die regulasies van die wet skryf ’n plafon voor en indien die plafon verbygesteek word, moet dit aangemeld word.
Dié rapportering sal dan later gebruik word as die basis vir die betaling.
Hy verduidelik dat die idee is om koolstofbelasting in vyfjaarsiklusse te evalueer, met ’n verhoging van verbruikersprysindeks plus 2%.
Sekondêre landbou (landbou-ondernemings) is egter nie vrygestel nie, so dit sal afhang of ’n landbou-onderneming se nywerheidsprosesse sy kweekhuisgasvrystellings oor die plafon druk waarvolgens hulle moet rapporteer en uiteindelik belasting betaal.
Aanslaaneffek
Die belasting vir kwalifiserende landbou-ondernemings sal volgens Boshoff primêre landbou só raak:
- Die belasting gaan gehef word op diesel en kragopwekking, dus sal die kostes daarvan waarskynlik na die verbruiker oorgedra word;
- Die prys van krag en diesel gaan styg, wat beteken dat die insetkoste van primêre landbou sal styg.
- Die kernprobleem om koolstofbelasting direk op landbou te hef, is hoe ’n mens dit meet. Indien besluit word om oor vyf jaar dit wel direk te hef, sal die metingsprobleem eers opgelos moet word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.