
Dit volg nadat die DA ’n beroep gedoen het dat ’n oudit van die ontvangers van die koopbewyse gedoen word ná verskeie klagtes van boere dat die “middelmanne” wat die departement gekontrakteer het om die koopbewyse te versprei om boere te help om insette te bekom, die goedere teen opgeblaasde bedrae verkoop.
Landbouweekblad het vroeër berig van die mense wat na bewering vals dokumente gebruik het om aansoek te doen om die departement se hulpprogram aan bestaansboere, probeer hul toegestane koopbewyse aan werklike boere verkoop.
Mnr. Noko Masipa, DA-LP, sê hulle het inligting gekry dat een winkel in Limpopo die boere se beweringe van die opgeblaasde pryse bevestig het. Dié winkel voer aan dat die situasie ontstaan het weens die reëling tussen die departement en tussengangers. ’n Voorbeeld is dat veevoer wat boere R100 sou kos, deur die tussenganger met 300% tot R400 opgeblaas is.
Dit het ook aan die lig gekom dat hierdie tussengangers die boere 25% kommissie vra, sê Masipa. “Die oudit moet uitgebrei word om hierdie opgeblaasde pryse en die kommissie wat boere gedwing word om te betaal, te ondersoek.
“Dit is onaanvaarbaar dat die program uitgebuit word. Die minister moet seker maak dat diegene wat in hierdie bewerings van korrupsie uitgewys word, dringend gedissiplineer word. Dit is geen verrassing dat ontwikkelingsprogramme vir boere misluk wanneer misdadigheid blykbaar elke inisiatief van die departement kniehalter nie.”
Die DA het ’n parlementêre vraag ingedien waarin hy vra dat Didiza besonderhede moet verskaf oor onder meer die middelmanne wat gekontrakteer is vir die R1,2 miljoen-hulppakket.