
Die vlak van tariefbeskerming vir koring gaan waarskynlik daal, meen mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA.
Hy het by ’n Graan SA-streekvergadering op Rietpoel in die Overberg gesê hy vermoed die huidige veranderlike tariefformule gaan behou word, maar dat die verwysingsprys wat nou $294/t is, dalk verlaag gaan word.
Itac (kommissie oor internasionale handelsadministrasie) het die ondersoek na die hersiening van invoertariewe op koring, mielies en suiker voltooi. Nou moet die Minister van Handel en Nywerheid dit goedkeur voordat die Minister van Finansies die tarief kan afkondig.
Voor Kaapse planttyd in April?
"Ons het versoek dat die tarief vóór die Kaapse planttyd wat in April begin, aangekondig moet word. My beste raaiskoot is dat dit dalk in Maart kan wees. Ek dink die proses is vertraag omdat drie tariewe in die ondersoek hersien is."
Intussen geld die huidige veranderlike formule vir die invoertarief tot verdere kennisgewing.
Die huidige veranderlike tarief is ’n meganisme wat goedgekeur is deur die Minister van Handel en Nywerheid om ‘n “vloerprys” vir koringprodusente daar te stel as wêreldpryse tot vlakke daal waar dit vir plaaslike koringprodusente ongunstig is om te produseer.
Die formule is op ’n plaaslike verwysingsprys van $294/t gebaseer. Sodra die prys van Amerikaanse "nr. 2 Hard Red Winter"-koring daal, word ’n tarief bereken as die verskil tussen die "wêreldprys" en die plaaslike verwysingsprys. As die verskil vir drie agtereenvolgende weke meer as $10/ton is, sneller die tarief.