‘n Nuwe buitelandse verwysingskontrak, wat op harde rooi winterkoring fokus, word vir die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) se graanportefeulje beplan.
Luidens ‘n verklaring sal die kontant-termynkontrak die Stad Kansas se Raad vir Handel (KCBT) se maatstaf vir pryse as verwysing gebruik.
Die JSE sê dié kontrak is voordelig want harde rooi winterkoring is dieselfde tipe koring as Suid-Afrikaans geproduseerde koring. Die maalgehalte daarvan is dus dieselfde, en dit sal markdeelnemers in staat stel om dié produk ook te oorweeg wat hulle risikobeplanning rakende koring betref.
“Ons is baie bly om met die Stad Kansas se Raad vir Handel, wat dié jaar sy 156ste bestaansjaar vier, saam te werk. Hulle beskik nie net oor wye ervaring nie, maar hulle deel ook ons verbintenis tot integriteit en diens aan die mark wat ons bedien.
"Dit verteenwoordig ook 'n verdere stap in die rigting van die globalisering van Suid-Afrika se kommoditeitsmarkte,” aldus mnr. Chris Sturgess, direkteur van kommoditeite by die JSE.
Kontrak
Die kontrak sal Woensdag (28 Maart 2012) bekend gestel word, en die vervaldatums is in Julie, September en Desember dié jaar en ook Maart 2013. Sturgess sê hierdie is die tweede buitelandse termynkontrak wat hulle instel, en hulle verwag dat die mark dit gunstig sal ontvang. Die eerste kontrak is in Julie 2011 met die CME-groep aangegaan.
Volgens Sturgess sal die aanbieding van drie koringkontrakte handelaars in staat stel om hulle koring-prysrisiko te verskans en om die aanbod aan verskeie markte beskikbaar te stel.
Mnr. Jeff Borchardt, hoof uitvoerende beampte van KCBT, sê dit is die eerste ooreenkoms wat hulle met ‘n oorsese effektebeurs aangegaan het.
”Die Stad Kansas se Raad vir Handel is trots om ‘n vennootskap met die Johannesburgse Effektebeurs aan te gaan om hulle markgebruikers toegang te bied tot ons harde rooi winterkoring-kontrak, wat die globale maatstaf vir pryse van broodkoring is.”
19 Maart 2012