Oestyd vir koringboere in die Wes-Kaap is besig om ‘n uitgerekte frustrasie te word, sê boere.
Mnr. Paul Burger van die plaas Kolsvlei, Piketberg, sê hoewel die koel en klam weer wat die eerste week van van November gekenmerk het, nie skade aangerig het nie, veroorsaak die feit dat hulle nie kan klaarmaak nie, groot ongerief. Sy oes is haas af; eintlik benodig hy net twee warm, droë sonskyndae om klaar te maak.
Ook mnr. Koos Blanckenberg van die plaas Klipheuwel, Philadelphia, sê dis nogal frustrerend, want toe 2mm reën voorspel is, het hulle 16mm gekry. “Ons kry nie lekker oesweer nie.”
Volgens mnr. Junior Herholdt van die plaas Uitkyk, Philadelphia, sukkel hulle om te begin, en was die 16mm reën wat hulle gekry het, ‘n “taamlike verrassing”. Die reën is ten minste goed vir sy wingerd. Herholdt reken die Koeberg se oes gaan vanjaar bogemiddeld wees. “Die koring word laat ryp, maar as jy kyk hoe min reën ons vanjaar gekry het, is die oes eintlik bo verwagting goed.”
In die suidelike deel van die Wes-Kaap sien boere nog nie dat die reën die graan geknou het nie. Mnr. Dreyer van Niekerk wat in die Jongensklip-omgewing buite Caledon boer, sê “behalwe dat dit ons ophou, het die reën nog nie skade gedoen nie. Ons oes elke week omtrent net een dag”.
Mnr. Kosie van Zyl van die plaas Hansieskloof, buite Napier, sê hulle kry nie so baie reën nie, maar net genoeg om die graan te nat te maak om te lewer. Soos vele van sy mede-koringboere is sy versugting: “As ons net ‘n paar sonskyndae kan kry .”
Van Zyl sê hulle het vanjaar tussen April en einde Oktober 76mm reën minder as die langtermyngemiddeld vir daardie tyd gekry, tog word dit nie weerspieël in laer opbrengste nie. Hy meen hulle verreken nie altyd die waarde van die vog wat voor April bewaar word indien ‘n goeie deklaag van strooi op die lande gelaat word nie.
Soos vele boere in die meeste ander gebiede, rapporteer Burger en Van Niekerk laer opbrengste as verlede jaar, maar aansienlik hoër proteïen-persentasies (van tot 14,5% en 15% oos van Caledon) en beter grade as verlede jaar.
Lees ook:
11 November 2010