Só het mnr. Niekie Mouton van die plaas Uitvlugt by Eendekuil in die Swartland einde November gesê. Koringopbrengste in sy omgewing was ver bo die gemiddelde van 2,2 t/ha op lang termyn en is oorwegend as B1 geklassifiseer.
Dié prestasie is hoofsaaklik met die langasem-kultivar SST88 behaal. Mouton sê hulle het goeie lupienoeste behaal. Volgens hom het sommige boere lupienopbrengste van meer as 2 t/ha behaal. Die lupienpoel gaan boonop vanjaar ’n goeie prys uitbetaal.
By hulle was die kanola goed, maar talle boere is teleurgesteld in vanjaar se kanola-oes. “Maar ons kan nie minder kanola plant as ons ons wisselbou wil handhaaf nie. Ons sal ander krisisse teëkom met siektes as ons nie aanhou om koring, lupiene en kanola af te wissel nie.”
Mnr. Pietman Uys van die plaas Sandfontein by Witsand in die Suid-Kaap sê hy moet nog net sy koljander oes. Wat op die land staan, lyk goed, maar hy boer nog nie lank genoeg met koljander om te kan oordeel of die oes goed gaan wees nie. “Ons leer nog.”
Al het hulle ’n droë winter gehad, het hy gemiddelde koring en garsopbrengste behaal, maar die gehalte was uitstekend. “My gars was alles moutgraad en behalwe vir twee vragte koring wat B2 geklassifiseer is, was alles B1.” Hy sê kanola was vanjaar nie goed in hul omgewing nie en opbrengste was net oor 1 t/ha.
Mnr. Franco le Roux, landboukundige hulpbronbestuurder by Southern Oil Bpk. (Soill) op Swellendam, sê laer kanola-opbrengste word in dié stadium toegeskryf aan temperature wat in Augustus en September gemiddeld hoër was. “Dit is nog nie bevestig nie, maar ons is besig om dit te ondersoek. Sclerotinia (’n swamsiekte) het ook vanjaar in sekere van die kanolaproduserende gebiede sy kop uitgesteek en groot verliese aan opbrengs veroorsaak.”
Die jongste verslag van die Oesskattingskomitee skilder ’n interessante prentjie van wat sedert die deregulasie van koringbemarking in die Wes-Kaap gebeur het. Afgesien daarvan dat daar geskat word dat die meeste koring (914 500 ton) vanjaar uit
dié provinsie gaan kom, het koring aanplantings (hektare) drasties afgeneem.
Produksie toon ’n stygende neiging. Dit kan toegeskryf word aan die voordele van bewaringsboerdery, nuwe kultivars en toenemende kundigheid by boere.