“Gee ons ‘n ordentlike invoertarief op koring, dan kan ons die land se graanproduksie weer in balans bring.”
Dít was die pleidooi van mnr. Andries Theron, ‘n koringboer van die Swartland en Graan SA se ondervoorsitter, op die jaarlikse boeredag van die Kleingraan-instituut buite Bethlehem.
Theron het gesê dit was vir hom ontstellend om op sy rit Bethlehem toe te sien hoe min koring op die Vrystaatse lande staan. “Waar is die 500 000 ha koring wat die mielie-oorskot van 4 miljoen ton moet minder maak?” het hy gevra. Dit het hom ook ontstel om te sien hoe min boere op die boeredag is.
‘n Behoorlike invoertarief op koring kan dít alles verander, het Theron gesê aan onder andere ‘n afvaardiging van die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) wat ook daar was.
Theron meen ‘n billike tarief sal meebring dat 500 000 ha weg van mielies na koring geswaai kan word. (Teen die gemiddelde opbrengs van 4,5 ton per ha verteenwoordig dié oppervlakte 2,3 miljoen ton se mielies.)
In verlede self geproduseer
“Ons hét die kultivars om mededingend koring te kan verbou. Nou voer ons 1,5 miljoen ton koring in, terwyl ons dit in die verlede self geproduseer het,” het Theron gesê.
Hy het bygevoeg dat selfvoorsienende voedselsekuriteit net deur ‘n gesamentlike poging van boere en die regering behaal kan word.
Dr. Cobus le Roux, hoof van die KGI, het benadruk dat die 1,2 miljoen ton koring wat Suid-Afrika deesdae invoer, miljoene rande uit die platteland en uit Suid-Afrikaners se sakke laat vloei.
“Ons hét die tegnologie om weer nader aan 2,8 miljoen ton plaaslik te produseer. Maar dan moet elkeen in die waardeketting sy kant bring. Daar kan nie net van boere verwag word om hul opbrengste te verhoog nie. Die regering, bakkers, meulenaars en finansiers moet ook elkeen sy inset lewer,” het Le Roux gesê.
22 November 2010