
Weens toenemende vrese oor die virus en in die lig van pres. Cyril Ramaphosa se opdrag dat byeenkomste met meer as 100 mense verbied word, is besluit om vanjaar se Royalskou in Pietermaritzburg af te stel.
Luidens ’n verklaring pas die Royal-landbougenootskap ’n aantal maatreëls toe om belangrike kwessies, soos die terugbetaling van geld wat reeds betaal is, asook die opskorting van kontrakte met diensverskaffers te hanteer.
“Dit is ’n komplekse, tydrowende proses en ons onderneem om ons belanghebbendes in te lig soos ons deur die besonderhede werk,” lui die verklaring. “Die Royalskou genereer sowat R250 miljoen in inkomste vir die Pietermaritzburg-area en die besluit om die skou af te stel is nie ligtelik geneem nie.”
As die omstandighede dit toelaat, sal moontlik later ’n alternatiewe datum vir die skou bepaal word.
Bonsmara SA, Elite-toekenningsgeleentheid, Bloemskou
Nog twee organisasie wat hul byeenkomste uitgestel het, is SA Stamboek en Bonsmara SA.Die jaarlikse Elite-toekenningsgeleentheid van SA Stamboek en Standard Bank wat tydens Bloemskou aangebied word, is tot verdere kennisgewing uitgestel. Dié spoggeleentheid, waarvan Landbouweekblad ’n medeborg is, sou op 27 April by Monte Bello, oos van die stad gehou word.
Mnr. Louis Steyl, uitvoerende hoof van Bonsmara SA, het bekend gemaak dat die genootskap se jaarvergadering wat saam met die Rooi Ras-geleentheid aangebied sou word, tot verdere kennisgewing uitgestel is.Dié beesras se jaarlikse toonvenstergeleentheid sou van 17 en 18 Maart by Stonehenge River Lodge op Parys aangebied word.
Die aanbied van die jaarlikse Bloemskou in Bloemfontein van 24 April tot 2 Mei sal vanmiddag op ’n vergadering in die stad bespreek word. Vroeër het die voorkoms van bek-en-klouseer en die beperkende maatreëls ter verspreiding daarvan ’n swaard oor die skou laat hang.
Minstens twee nasionale en een Vrystaatse grootveekampioenskapskou by die skou is opgeskort voor die beperkende maatreëls ten opsigte van bek-en-klouseer opgehef is.