
Roux het in 1968 en 1969 met sy Ken die Karoobossiereeks in Landbouweekblad, en nou weer, vele boere gehelp om die bossies op hul grond te leer ken en dus beter besluite oor weiding te neem.
Roux was ’n weidingsnavorser, ’n landboubestuurder, ’n voorligter en ’n mentor. Hy het tot die einde belanggestel in veld en vee, sê dr. Loraine van den Berg, wetenskaplike by die Grootfontein landbou-ontwikkelingsinstituut.
In ’n e-pos aan haar in Maart skryf hy hy is “'gedurig' besig om projekte te 'fabriseer'; dit is dié wat ek graag sou wou doen om sekere stellings en vermoedens te ondersoek ...”.
Roux is in 1927 op Cradock gebore. Hy het in 1968 sy doktorsgraad oor die ekologie van die Stormbergplatblaargras (Tetrachne dregei) aan die destydse Universiteit van Natal verwerf (volgens Landbouweekblad se argief). Hy was van 1975 tot 1978 direkteur van die Oos-Kaapstreek en van 1978 tot en met sy aftrede in 1987 direkteur van die Karoostreek.
Sy nalatenskap is ontsaglik, meen prof. Timm Hoffman, houer van die Leslie Hill-leerstoel in plantbeskerming aan die Universiteit van Kaapstad (UK). “Sy bydrae duur voort deur die gedetailleerde rekords van sy werk. Piet se passie vir so baie dinge in die lewe was merkwaardig. Hy was altyd gewillig om sy Karookennis te deel. Ek het altyd geïnspireer gevoel na gesprekke met hom.”
Sy foto’s en noukeurige rekords bied geleenthede vir navorsers wat omgewingsverandering wil ondersoek. Een van hulle, me. Gina Arena, ’n doktorale student by die plantbewaringseenheid aan die UK, sê Roux se bydrae tot dro?landnavorsing (volgens Landbouweekblad se argief) is van buitengewone waarde. “Hy was ‘n pionier van veldbestuurnavorsing in die Karoo en was aan die voorpunt van die ontwikkeling van die groepkamp-weidingstelsel wat baie boere met groot welslae toepas (volgens Landbouweekblad se argief).”
Roux se plantegroeidata is die basislyn vir ’n langtermynmoniteringsprogram vir die Karoo. “Sonder sy data sou die program nie moontlik wees nie,” sê Arena. “Sy impak op ons gemeenskap word raakgesien en hy is ’n inspirasie vir baie van ons.”
Roux word deur sy vrou, Jane, en kinders oorleef.