Kos is te goedkoop dat boere kan aanhou om dit volhoubaar te produseer, sê prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
Hy het op die jaarlikse inligtingsdag van die Riversdalse Wintergraanbedryfskomitee op die plaas Uitkyk gesê verbruikers betaal te duur vir luukse goed en te min vir basiese goed. “Pryse sal dramaties moet styg om volhoubare voedselproduksie te verseker. Verbruikers betaal boere te min vir dit wat hulle werklik bied.”
Karaan het dit onder die aandag van boere gebring dat Suid-Afrika dalk die toekoms met ’n vervalle Regering tegemoet gaan waarin al hoe meer publieke goedere, soos watervoorsiening, landbounavorsing, gesondheid en opvoeding private goedere raak. Só gaan dit die voorreg word van diegene wat daarvoor kan betaal.
Sy perspektiewe op die landbou en ekonomiese groei is wyd en laat hom voorstel dat Suid-Afrika “die produktiwiteit van arbeid moet ontsluit deur meer produktiewe werkers uit lande noord van ons te benut”. Hy besef dit lei tot xenofobie, maar die tyd is verby dat ’n land homself deur geografiese grense kan afsonder.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 24 September 2010.
20 September 2010