Voedselpryse is wêreldwyd op die hoogste vlak sedert 2008 se voedselkrisis, sê die Verenigde Nasies (VN) se Food and Agricultural Organisation (FAO).
In ‘n berig op Irinnews.org word vermeld dat die internasionale gemiddelde prys van voedsel 25% hoër was in Desember as dieselfde maand in 2009.
Graanpryse alleen was 39% hoër, maar is steeds 13% laer as dieselfde tydperk in 2008. Faktore, soos vinnig stygende brandstof- en kunsmispryse, het in dié jaar gesorg vir die grootste koskrisis in 30 jaar.
Armer lande het verlede jaar, vergeleke met 2007/’08, goeie of bogemiddelde graanoeste gehad, wat honger kan help stuit, sê mnr. Abdolreza Abbassian, senior ekonoom by die FAO. Mnr. Dawie Maree, landbou-ekonoom, meen Suid-Afrika kan verwag dat kospryse in die nabye toekoms ook sal styg, soos in die res van die wêreld, luidens ‘n berig op Business Day.
Abbassian raai aan dat lande met surplus graan of rekordoeste van stapelvoedsel strategiese reserwes opbou. Kospryse sal drasties styg tensy graanverbouing en oeste vanjaar noemenswaardig groei, sê hy.
Hoë kospryse bemoedig boere om meer te plant, wat goeie nuus is, meen hy. “Baie boere diversifiseer egter, wat ‘n uitwerking kan hê op die verskaffing van spesifieke produkte.”
lees ook:
Nóg ‘n voedselkrisis aan die kom?
6 Januarie 2011