Suid-Afrika se energie-aanbod is net-net genoeg om in die vraag te voorsien, sê mnr. Hugh McGibbon, bestuurder van Eskom se sentrale bedieningsarea.
“Dit is nie finansies wat ons terughou nie. Dit is ons vaardigheid.” McGibbon het op Agri Gauteng se kongres by Irene, Pretoria, gesê die kragkrisis het ontstaan omdat Suid-Afrika nie betyds nuwe kragsentrales gebou het nie.
Dié semi-staatsinstelling ontwikkel tans drie kragsentrales wat Gauteng van 10 keer meer krag kan voorsien. “Indien die ekonomie nie dadelik ’n oplewing beleef nie, sal ons in 2019 weer moeilikheid hê. As dit wel nou spoed optel, is ons volgende week in die moeilikheid.”
McGibbon sê die Wêreldbekersokkertoernooi het kragtoevoer beproef en die land se kraginfrastruktuur is steeds onder druk. “Selfs al verdubbel ons kragvoorsiening, sal die moontlikheid van kragonderbrekings vir die volgende 20 jaar by ons wees. Om dié rede moet die hele land saamstaan om kragverbruik te beperk.”
Die hele land sal sy energieverbruik met 10% moet verminder om aan Eskom se doelwit te voldoen. Nog R190 miljard is nodig om Eskom se kragvoorsiening só te verhoog dat dit in die vraag sal voorsien.
“Ons wil ook lyndienste verbeter en sorg dat drade nie plaastoegang bemoeilik nie.”
16 September 2010