
Mnr. Gwede Mantashe, minister van hulpbronne en energie, het verlede week op Twitter gesê daar is in oorleg met die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) besluit dat nuwe kragopwekkingskapasiteit toegelaat sal word om in Suid-Afrika se kragbehoeftes te voorsien.
Mnr. Tygue Theron van Energy Partners Intelligence sê Mantashe se besluit om 6 800 MW se son- en windkrag goed te keur is ’n goeie beginpunt om die land se kragmengsel te diversifiseer en die moontlikheid van beurtkrag te verminder. “Die insluit van 513 MW se battery-opbergingsvermoë maak dit moontlik om die krag wat opgewek word, te hou en te gebruik wanneer Eskom se stelsel gedurende spitsure onder druk is.”
Hy sê die gebruik van hernubare kragbronne sal ook help om die impak van klimaatsverandering, die grootste langtermynbedreiging vir die landbousektor, te versag. “ ’n Toename van 2 °C in gemiddelde temperature kan ’n verwoestende effek op die landbousektor hê.
“Ingevolge die Kioto-protokol is Suid-Afrika verplig om van steenkoolkrag na hernubare kragbronne te beweeg om koolstofvrystelling te verminder. Namate die land steenkoolkragsentrales sluit, moet ons verseker dat ons die vraag-aanbod-gaping met skoon krag vul.
“Die toekoms van ons stelsel is nog grotendeels onseker, maar die benutting van hernubare krag is ’n groot stap in die regte rigting om die kernkwessies van ons huidige verknorsing aan te pak.”