
Die taakspan, wat op kort-, medium- en langtermynoplossings konsentreer, het met Eskom en munisipaliteite geskakel om ’n behoorlik beplande skedule vir beurtkrag op te stel in gebiede wat nie groot residensiële gebiede het of deur munisipaliteite van krag voorsien word nie. Die ministerie het ook gevra dat laer vlakke van beurtkrag ingestel word in gekonsentreerde besproeiingsgebiede.
Eskom het laat blyk dat hy oop is vir samesprekings met provinsiale landboustrukture en het gevra dat Eskom se streekverteenwoordigers daaroor gekontak word.
Die departement het gesê die energiekrisis hou ’n risiko vir voedselsekerheid oor die hele Suid-Afrika in, en ’n behoorlike beurtkragplan vir landbou en verwante bedrywe is dus nodig. Boonop word die helfte van landbou-inkomste uit besproeiingsaktiwiteite gegenereer, wat beteken dat dieselfde hoeveelheid werksgeleenthede in gedrang kom. Die landbou in Suid-Afrika bied sowat 860 000 werksgeleenthede.
Van die oplossings wat op die vergadering bespreek is, is dat kliënte met aangewese infrastruktuur aansoek doen om ’n vermindering van kragverbruik gedurende spitstye, en dat kliënte wat deur dieselfde substasie van elektrisiteit voorsien word, hul vraag gedurende spitstye verminder. Die skedule word dan hersien om in die behoefte van die groter groep kliënte te voorsien.
Munisipaliteite kan ook toegelaat word om hul eie skakeling te doen om kliënte te akkomodeer, terwyl die netwerk, waar moontlik, heropgestel kan word om isolasie van hierdie gebiede toe te laat. Voorts is daar ook voorgestel dat mikro-netwerke, fotovoltaïese stelsels en batterystasies opgerig word om in kritieke tye soos tydens oestye, wanneer besproeiing moet plaasvind en met verkoeling bystand te verleen.
Op mediumtermyn kan
infrastruktuur gebou word vir ’n aangewese verskaffing of isolasie. Dit kan
deur Eskom gedoen word of deur ’n proses waar dit self gebou word.
Slim-meterinstallering op noodsaaklike voedingsnetwerke aan die landbou moet
ook bevorder word en ’n diversifikasie van bedrywe soos die suikerbedryf kan
deur biogas-kragopwekking en verskaffing help om druk op die netwerk te verlig.
Tesourie tot die redding
Intussen het mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, in die begrotingsrede ’n paar belastinginisiatiewe aangekondig wat ook druk op die nasionale stelsel kan verlig.
Van 1 Maart af kan besighede hul belasbare inkomste met 125% van die koste van ’n belegging in hernubare energie verminder. Daar is ook nie ’n drempelgrootte vir die projekte nie. Die aansporing sal vir die volgende twee jaar beskikbaar wees om belegging op kort termyn te stimuleer.
’n Nuwe belastinginisiatief is ook vir huishoudings om sonpanele te installeer om druk op die netwerk te verlig en beurtkrag te verminder. Huishoudings wat sonpanele installeer, kom in aanmerking vir ’n rabat van 25% van die koste van die panele tot ’n maksimum van R15 000. Dit kan gebruik word om belastingdruk in die 2023-’24-boekjaar te verminder.
Daar is ook veranderinge aan die Bounce Back Loan Guaranteer-skema waar die regering sonkragverwante lenings aan klein en mediumgrootte besighede sal waarborg op ’n 20%-eerste-verliesgrondslag. Die tesourie sal die skema in April 2023 van stapel stuur.
Om die impak van die krisis op voedselpryse te verminder, sal die terugbetaling op die padongelukkefonds se heffing vir diesel wat gebruik word in die produksie van voedsel, verleng word. Dit begin op 1 April 2023 vir die volgende twee jaar.
Moeilike week vir Eskom, maar planne is in werking
Intussen berig Eskom dat die afgelope week moeilik verloop het. Mnr. Thomas Rautenbach, opwekkingshoof van Eskom, sê 5 012 MW is hierdie week vir beplande instandhouding afgeskakel, terwyl onbeplande instandhouding weens foute en probleme met steenkool 11 111 MW beloop het.
“Terselfdertyd was daar ook probleme met steenkool by die Matla- en Letaba-kragsentrales waar gure weer daartoe gelei het dat eenhede nie weer aanlyn kon kom nie. Daar is ook eenhede by Matla en Majuba wat onder hoë risiko verkeer weens buislekke. Hierdie eenhede word gemonitor, maar sal een of ander tyd afgeskakel moet word vir herstelwerk.”
By Letaba, gewoonlik een van die meer betroubare kragsentrales was, was daar vroeër die week slegs een eenheid in werking. Die situasie het Eskom gedwing om vlak 6-beurtkrag in te stel.
Rautenbach het gesê dat Eskom onverpoos voortgaan met pogings om die situasie te verbeter. “Ons moet egter baie versigtig wees om ons reserwes te spaar om die komende week te kan deurgaan.”
Mnr. Rudi Dicks, hoofsekretaris van die nasionale energiekrisiskomitee (Necom), het gesê die skuldlasverligting wat deur die tesourie aangekondig is, het Eskom in staat gestel om meer tyd en aandag aan sy herstelplan te gee. “Dit is belangrik dat daar ’n belegging in kragopwekking en verspreiding gemaak word. Eskom se verspreidingsontwikkelingsplan, waarvolgens 2 890 km se nuwe kraglyne en 60 transformators gebou sal word om met druk op die netwerk te verlig, gaan sowat R72 miljard kos. Skuldverligting is belangrik om te verseker dat Eskom daardie beleggings kan maak.”
Wat betref die aankondigings deur die tesourie dat besighede en huishoudings ’n belastingverligting vir beleggings in hernubare energie en sonpanele sal verkry, het Dicks gesê Eskom hoop dat daar ‘n beduidende opname en belegging sal wees.
Intussen sal die aanskaffing van noodkrag wat van sowat 400 MW onmiddellik voortgaan en op die netwerk geplaas word. Daar is ook ander kontrakte wat reeds ondersoek word en onderhandelinge met hierdie verskaffers gaan voort.
Die projek om oorskotkrag van onafhanklike kragprodusente aan te koop is ook op koers, het hy gesê en minstens 64 MW sal so verkry word.
Mnr. Michael Currin, waarnemende woordvoerder van Necom, het gesê die spoed waarteen oplossings ondersoek en aangewend word, word intussen verhoog. “Die impak op Suid-Afrika en die ekonomie is uiters ernstig en ons kyk daarna om alle opsies so vinnig moontlik te ondersoek. Van die oplossings is dalk van korter duur, terwyl ander ’n langer werking sal hê, maar ons sal bly voortgaan om oplossings te vind totdat die krisis opgelos is.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.