
Fase 6-beurtkrag het skaars Suid-Afrikaners op hol gehad, of mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Eskom met mening hieroor oor die vingers getik en daarop aangedring dat die kragverskaffer die land so gou moontlik uit fase 6 moet kry.
“Beurtkrag het ’n vernietigende uitwerking op huishoudings, mense se lewensmiddele en die land se ekonomiese klimaat. Dit is onaanvaarbaar.” Gordhan het gesê die veelvuldigheid van onderbrekings kan voor verskeie deure gelê word, waarvan sabotasie een is. “Ons vra wetstoepassers om ’n sterker teenwoordigheid by Eskom-kragsentrales te handhaaf. Ons sal nie aktiwiteite duld wat nie in belang van die land is nie,” luidens sy departement se verklaring.
Eskom het later aangekondig eenheid 1 van die Koeberg-kernkragsentrale buite Kaapstad word na verwagting eers Saterdag afgeskakel vir instandhouding ná die aanvanklike beplanning om dit Woensdagaand te doen. Dit was volgens Eskom nodig om beurtkrag te beperk.
Dié eenheid voorsien die kragnetwerk van amper 1 000 MW se kragopwekkingsvermoë, wat gelykstaande is aan een fase beurtkrag. Na raming sal die eenheid vir ses maande buite werking wees. Daarna sal eenheid 2 uit bedryf gestel word vir broodnodige herstelwerk.
Mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, wat sy mes in het vir mnr. André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het in sy kritiek selfs ’n stap verder gegaan deur te sê beurtkrag se skade aan die ekonomie is erger as wat staatskaping aangerig het. Mantashe het tydens die ondertekeningseremonie deur suksesvolle bieërs van die vyfde ronde van die hernubare-energieverkrygingsprogram in Pretoria gesê Eskom se mislukking om sy kragsentrales in stand te hou, kan selfs gesien word as ’n poging om die regering omver te werp, berig Business Day.
Sakesektor vra samewerking
Intussen moedig die sakesektor almal in die land aan om saam te werk om druk op die kragnetwerk te verlig.
In ’n gesamentlike verklaring deur Business Leadership South Africa, die energieraad van Suid-Afrika en Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) vra die organisasies hulp om die vraag na krag te verminder. Luidens die verklaring word daar onder meer gevra dat die regering geld sal gee vir dieselvoorraad. Die organisasies vra ook vir kalmte en het hul steun aan Eskom en sy personeellede in die kragkrisis toegesê.
Die nasionale tesourie het vroeër aangedui daar kan moontlik nie voldoen word aan Eskom se versoek vir R19,5 miljard om nog diesel aan te koop nie. Eskom het vir nog geld gevra ná sy noodvoorraad vir diesel opgebruik is.
Ineenstorting onwaarskynlik
Mnr. Chris Yelland, energiekenner, het vandeesweek in ’n radio-onderhoud gesê dit is nie nodig om paniekerig of histeries te raak oor die kragkrisis nie aangesien ’n ineenstorting van die kragnetwerk onwaarskynlik is, al word eenheid 1 by Koeberg afgeskakel. Hy meen Eskom is in staat om die balans tussen vraag en aanbod te balanseer en op ’n beheerbare wyse te bestuur.
Teen Vrydagoggend het fase 5-beurtkrag gegeld en dit sou tot verdere kennisgewing duur.