
Dít is egter net die direkte koste om sake te doen te midde van ’n nasionale kragkrisis. Die indirekte koste is veel meer, sê mnr. Rob Field, finansiële hoof van RCL Foods, wat die huidige volgehoue hoë vlakke van beurtkrag as onvolhoubaar bestempel. “Ons kan die krisis oor die kort- of mediumtermyn hanteer, hoewel dit ons natuurlik meer geld kos. Die situasie kan egter nie onbepaald só aanhou nie.”
Hy sê die gereelde vlak 6-beurtkrag ontwrig hul bedrywighede aansienlik. “Die onbeplande onderbrekings veroorsaak heelwat vermorsing van produkte by ons aanlegte.” Dis egter nie net aanlegte wat deurloop nie. “Ons logistieke afdeling, Vector Logistics, wat produkte namens maatskappye vervoer, word uiters negatief geraak as sy klante se voorsieningsketting weens beurtkrag ontwrig word. As ons vragmotors nie teen volle kapasiteit benut word nie, kán die afdeling nie sy sake winsgewend bedryf nie.”
Hoë insetkoste demp ook wins
RCL Foods, wat sake in die kruideniersware-, suiker-, hoender- en logistieke bedryf doen, het Maandag bekend gemaak dat sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) in die halfjaar tot Desember 2022 met 8,9% tot R 1,7 mjd gedaal het. Die groep, met handelsname soos Epol, Molatek en Selati in sy stal, se inkomste het in dié tydperk egter met 17,6% tot R20,2 mjd gestyg. Dit is danksy hoër pryse om hoër insetkoste teen te werk en hoër volumes in onder meer suikerverkope.
Field het egter erken dat sowel verkoopsvolumes as winsmarges onder druk is. “Naas beurtkrag is die ander demper op ons prestasie die volgehoue hoë insetkoste in al die sektore waarin die maatskappy sake doen.”
Die groep se afdeling vir waardetoegevoegde voedsel, wat kruideniersware en bakkerye insluit, lewer die grootste bydrae tot sy inkomste. Dis veral in hierdie afdeling dat hoë pryse vir grane en oliesade die marges knyp. Inkomste in dié afdeling wat handelsname soos Piemans, Bobtail, Ouma-beskuit en Yum Yum-grondboonbotter insluit, het met 16,7% to R12,2 mjd gestyg terwyl ebitda met 4,66% to R978,3m gedaal het.
Goeie vooruitsigte vir suiker
Die vooruitsigte vir sy suikerbedrywighede lyk positief danksy hoër suikerpryse en ’n goeie oes. waarsku egter dat beurtkrag sy suikerrietlande wat besproei word, se opbrengs kan knou. “Ons het baie belê juis om ons landerye, wat meestal op plat grond geleë is, te besproei. Dit sou ons opbrengs beter as ons mededingers s’n maak. Beurtkrag verooraak dat ons daardie voorsprong verloor.”
Molatek, die groep se dierevoer-afdeling het voordeel getrek uit ’n verbeterde produkmengsel en omskakeling na produkte wat meer winsgewend per sak verkoop word..
Die hoenderafdeling, Rainbow Chicken, het sy inkomste in die oorsigtydperk met 19,2% tot R6,5 mjd verhoog terwyl ebitda met 110,5% gedaal het en die afdeling van ’n wins van R58m in Desember 2021 tot ’n verlies van R6,1m ’n jaar later getuimel het. Hoë voerkoste en swak landboutoestande het ’n rol gespeel terwyl beurtkrag bykomende uitgawes weens dieselkoste, oortydbetaling en ’n swakker voeromsetkoers veroorsaak het.
Die groep is steeds van plan om sy hoenderafdeling en Vector Logistics, sy logistieke onderneming, as alleenstaande entiteite te ontwikkel en te verkoop. Hy wil voortaan sy aandag op sy waarde-toegevoegde produkte toespits.
RCL Foods het nie ’n tussentydse dvidend verklaar nie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.